’n FONDSINSAMELINGSDAG word Saterdag 24 September van 09:00 af by die Dal Josafat-stadion gehou. Dit is ter herinnering aan Jacob, die tweejarige seuntjie wat in ’n brand by Miriam se Kinderhuis in Mbekweni gesterf het.
Die dag beloof om groot pret vir die hele gesin in te hou. Verskeie kunstenaars sal optree en ’n potjiekoskompetisie sal teen R60 per span (maksimum vier mense) gehou word. Die potjiekos sal ná die kompetisie verkoop word.
Verskeie boeresportaktiwiteite en heelwat kompetisies met pryse sal aangebied word. Daar sal ook springkastele, gesigverf, gelukstrekkings, ’n sewes-rugbytoernooi en stalletjies wees.
Vir die manne sal die rugby op ’n groot skerm in die biertent uitgesaai word.
Om die dag ’n sukses te maak, benodig die organiseerders18 pryse vir die sportspanne, twee vlugballe, twee rugbyballe, twee vlugbalnette, twee sokkerballe, braaidromme en hout.
Die toegangsgeld is R10 (R5 vir kinders). Mense wat belang stel om ’n stalletjie op te rig, kan Danélle Marais by 083 301 5708 kontak.