Man in die knyp oor dwelms
2011-09-22
’n MAN is verlede week vasgetrek nadat hy dwelms ter waarde van R32 000 tussen sy boude probeer versteek het. Lede van die blitspatrollie wat in die Paarl gestasioneer is, het onlangs inligting ontvang dat ’n inwoner van Wellington met die dwelms van Stellenbosch af onderweg was. Hulle het die verdagte in Klapmuts in sy motor opgemerk en hom op die R45 onder die N1-brug afgetrek. Die man is deursoek, maar slegs een Mandrax-tablet is in sy besit gevind. Hy is na die Klapmuts-polisiestasie geneem en toe hy hiér uit die motor klim, het ’n polisiebeampte opgemerk dat alles nie pluis is nie – die verdagte het glo geloop en knyp asof hy erg in die nood was. Die beampte het hom dopgehou en ’n paar treë verder vasgestel wat skort. Hy het gesien hoe ’n pakkie onder by die gearresteerde se broekspyp uitgeglip kom. By nadere ondersoek is daar vasgestel dat daar 32 gram dwelms in die pakkie was. Angelo Arnolds (28) het in verband met die voorval in die hof verskyn.
More
News
|