WANNEER het dienslewering van besighede in die Paarl-middedorp so verswak dat kliënte voorsiening maak daarvoor in ons daaglikse beplanning?
Ek beplan om gou oor etenstyd ’n kledingstukkie vir my dogtertjie te gaan koop, maar ek sal ’n ekstra 15 minute daarvoor moet begroot, want dit is hoe lank ek in die betaalry gaan wag.
Dis nou as ek veilig by die betaalpunt uitkom en nie ’n been breek as ek val oor die bokse on-uitgepakte klere en hangers wat in die loopgange staan nie.
Verbeel ek my daardie winkel was eens op ’n tyd netjies en georganiseerd?
Dan wil ek gou by ’n supermark inhardloop vir daaglikse benodigdhede, maar ek weet vooraf een van die sewe produkte wat ek wil koop, gaan nie beskikbaar wees nie en iewers in daardie winkel gaan ek op ’n nat kol op die vloer trap.
Ek onthou hoe trots die personeel altyd was toe my ma daar inkopies gedoen het. Die werkers was daar om kliënte te bedien. Deesdae is hulle te besig om gesprekke oor-en-weer te skree tussen betaalpunte.
Daar is wel twee bekende winkels in die middedorp wat nog hard probeer om hulle goeie reputasies te behou wat diens betref. Ek kan ongelukkig nie sê dat julle baie suksesvol is nie, maar vergeleke met jul mede-middedorpenaars, lyk jul diens die beste van die slegtes.
Woops, my etenstyd is om, waarom het ek nie liewer mall toe gery nie? Dankie vir die enkelinge wat nog ’n poging aanwend om kliënte met trots te bedien. Dis jammer dat ons deesdae mense heelhartig wil bedank as hulle doen waarvoor hulle betaal word. Soms gebeur daar ’n wonderwerk en iemand doen meer as net die verwagte – weet net, dit word raakgesien.
Marisa Fourie