Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Meester-afrigter word 80

Meester-afrigter word 80
 
2008-01-10

David Joshua

Dié man hou net aan en aan en aan - dis nou David Samaai, bekende oud-onder­wyser en skoolhoof, orrelis, dirigent, voorheen Wimbledon tennispeler en nou nog steeds tennisafrigter van die Paarltennisklub se junior Boland-span!

Ontmoet en praat jy met hom, sal ’n mens nooit glo dat hy verlede week sy 80ste verjaarsdag gevier het nie.

Boonop is hy onlangs vereer met ’n Davisbekertrui wat deur die huidige Davisbekergroep geteken is!

“Ek waardeer die gebaar van die Davisbekerspan om ’n hemp met hul handtekeninge daarop aan my te skenk en hoop dat hulle suksesvol sal wees in hul eerste wedstryd teen Finland,” het hy heel uit die veld uit geslaan, gesê.

Hy het nooit verwag dat hulle hom so sou vereer nie, juis omdat hy weens Apartheidpolitiek nooit vir hierdie span oorweeg is nie.

Tog het Samaai wel destyds die Tennis ­­ ­Springbok Gordon Forbes in ’n toernooi in Londen geklop, en meer onlangs die veterane nasionale-span na Australië aangevoer.

In 1949 het Samaai vir die eerste keer gekwalifiseer om op Wimbledon te gaan speel. Hierna het hy nog drie keer in 1951, 1954 en 1960 in hierdie glansryke toernooi gespeel.

In 1954 het hy tot die derde ronde deurgedring en het hy ook in die Franse- en Duitse Ope Tennistoernooie gespeel.

Hierbenewens het hy ook klaargespeel met die destydse Britse nommer twee en Davisbekerspeler, Geoffrey Paish.

Samaai is nog die ene entoesiasme en hy borrel alweer oor met ’n nuwe idee. Dis om voort te gaan met die stigting van die David Samaai Tennisskool.

“Solank as wat ek gesond en fiks genoeg is, hoop ek om voort te gaan met die tennis­afrigting, want ek is alreeds genader om voort te gaan met die Tennisskool,” vertel hy.

Volgens hom het baie mense hom al gevra waarom hy nie al lankal met so ‘n Tennisskool begin het nie,

“Dis nooit te laat nie,” skerts hy.

Op die oomblik is hy en vyf ander hulpafrigters elke Saterdagoggend besig met afrigting van juniors op die tennisbane agter die Gemeenskapsaal in Huguenot, want tennis bly maar sy groot belangstelling.

Die Suid-Afrikaanse Tennisafrigtersvereniging het aan hom die status as meesterafrigter toegeken.

Daarbenewens het hy sy voorbereiding as professionele tennisafrigter te danke aan die Vander Meer Tennis Universiteit in die VSA en die Britse Tennisafrigtersvereniging asook kursusse van die Internasionale Tennisvereniging.

Samaai en sy vrou Winifred, vier ook volgende jaar hul goue bruilof. Die kinders is almal al getroud en uit die huis uit. Sy ander broers Ronnie, Frankie en Ivan leef ook nog almal.

“Ek ken my liefling al van haar 16de verjaarsdag af toe ek haar op skool ontmoet het,” vertel hy.

“Saam het ons twee ’n gedugte gemengdedubbelspelpaar gevorm en het ons vele opponente deeglik laat tennisles opsê,” skerts hy.

Hy laat nie die geleentheid verbygaan om te erken dat sy ’n deurslaggewende rol gespeel het in sy tennisloopbaan nie.

“Dis deur haar bystand en opoffering dat ek so ver gevorder het,” sê hy.

Samaai se ander groot liefde is musiek. Hy kom uit ‘n musikale familie en hy bespeel die klavier en orrel ewe flink.

In die veertigs het hy die Paarl Bel Cantokoor gestig en en ook orrelis van Bethel Kerk geword.

Gaan luister maar na musiekuitvoerings van die Bel Canto-koor en kyk maar tydens kerkdienste, bruilofte, begrafnisse en ander kerkfunksies by Bethel Congregational Kerk in Evansstraat wie agter die orrel sit. Tien teen een is dit David Samaai!




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za