Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
2011-09-15
Lise Beyers
KAN ’n persoon wat tronkstraf uitgedien het weer suksesvol in die gemeenskap integreer? Hierdie tergende vraag vra ’n vrou, nadat haar man eers goed gerehabiliteer het nadat hy tronkstraf uitgedien het, maar toe weer in die bose kringloop van misdaad verval het. Die terugslag meen sy vrou, was weens die gemeenskap se onvermoë om hom te aanvaar. Morné van der Lint (30) het elf jaar gevangenisstraf uitgedien weens moord. Hy is twee jaar gelede op korrektiewe toesig uit die gevangenis vrygelaat en is met sy droom-vrou, Annisa, getroud. Annisa vertel dat hy drome en ideale gekoester het soos enige ander normale mens en het baie hard probeer om ’n eerlike lewe te lei. Hulle het hulself in Wellington gevestig en het uitgesien na ’n rooskleurige toekoms saam. Vir eers het dinge wel so gelyk. ’n Vriend het R5000 geskenk om Morné ’n sweiswerk-kursus by Northlink Kollege te laat voltooi. “Hy het werk in die Kaap gekry, maar toe medewerkers opmerk dat hy tatoeëermerke het, het hulle die bestuur hiervan verwittig. “Hy is ingeroep en het onmiddellik kennis gekry, ten spyte van die feit dat hy ’n goeie werker is. Hy was ten gronde. “Die afleiding was dat hulle geen genade toon nie en dat diskriminasie steeds hoogty vier in maatskappye.” Verder vertel Annisa, na vele terugslae van werk soek, het Morné weens finansiële nood weer bevriend geraak met verkeerde elemente. Dit is hoe hy betrokke geraak het by ’n bekende dwelmhandelaar in Hospitaalstraat, Wellington. Hiér het hy werk op elektriese toestelle gedoen, maar dit is ook waar hy nouer kontak gemaak het met ’n bekende vriend, “Tik”. “Hy het begin uitslaap en al hoe verder van my begin wegdryf.” En toe verdwyn Morné spoorloos. “Korrektiewe Dienste doen niks om te verhoed dat gevangenes in misdaad verval as hulle die buitewêreld betree nie. Gevangenes word vaardighede aangeleer binne in die tronk, maar kan dit nêrens in die gemeenskap gebruik nie, omdat hulle kriminele status nie bekend gemaak mag word nie. “Besighede moet ook meer ingelig word oor die rehabilitasie van gevangenes sodat hulle nie sulke negatiewe houdings teenoor hulle het nie. “Morné wou ná sy tronkstraf net ’n eerlike werk hê om vir my te onderhou, asook moontlike kinders in die toekoms.” Niemand weet nou waar Morné homself bevind nie en Annisa is hieroor ’n wrak. Sy weet nie eens of hy nog lewe nie. Enigiemand met inligting kan a.o. David Manthey skakel by Wellington polisie 021 864 9600.
More
News
|