Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Om die braaivleisvuur met Jan Braai

Om die braaivleisvuur met Jan Braai
 
2011-09-22

Lise Beyers

DIE brein agter Nasionale Braaidag, Jan Braai (eintlik Scannell), is ’n man wat as’t ware a passie vir die kole het.

Hiér beantwoord hy ’n paar vinnige vrae oor sy hartstog.

Hoekom Braaidag? Dit is die een ding wat alle Suid-Afrikaners in gemeen het. Maak nie saak wie jy is en van waar af jy kom nie, jy hou van braai. Geloof, taal, politiek, sport – al daai goed is dinge waaroor ons verskil. Maar ons almal hou van braai. Die gedagte was, en is, dat dit darem lekker sal wees as ons een dag ’n jaar sommer net almal braai.

Wanneer het jy met hierdie idee vorendag gekom? Die idee is oor tyd gevorm.

Party politici was ’n bietjie ontstoke dat Braaidag Erfenisdag oorheers. Wat sê jy vir hulle? Wel, hulle het ’n punt beet. Nasionale Braaidag oorheers Erfenisdag. Ek was uit die aard van die saak verbaas toe ek die eerste keer hoor dat mense vies is, maar ek kan nou nie juis stry nie. Daar is heelwat meer mense wat braai op Nasionale Braaidag as wat na sportstadions gaan om na politieke toesprake te luister. Persoonlik dink ek natuurlik dis ’n goeie ding dat Suid-Afrikaners verkies om saam fees te vier eerder as om te sit en verveeld wees. So, my boodskap aan hulle is, moenie ontstoke wees nie, stook eerder ’n vuur.

Wat is jou gunstelingkosse op die braai? En deel ’n paar geheime. Daar is heelwat gunstelinge. Hulle sluit in lamstjops en ontbeende lambsboud, snoek, rib-eye steak, T-beensteak, behoorlik goeie boerewors, braaibroodjies, potjie, mieliepap ensovoorts. Ek het onlangs vir 40 dae deur die land getoer en elke dag op ’n ander plek saam met ander mense gebraai. Tydens die toer (en ook oor die algemeen) is my grootste kritiek dat mense vleis te lank braai en dit uitdroog. Jy moet ’n lekker warm vuur gebruik en seker maak jy karamelliseer die vleis aan die buitekant terwyl dit nog lekker sappig is aan die binnekant. Dis mense wat oor louwarm vure braai en alewig die vleis om en om draai wat uiteindelik die vleis uitdroog sonder dat dit eers lekker bruin aan die buitekant is.

Waar is jou gunstelingbraaiplek? Enige plek in die veld in die Karoo. Of enige plek waar mens die see kan sien.

As jy kon, kies drie mense, dood of lewend, saam met wie jy graag sou wou braai en wat sal op die spyskaart wees? My twee oupas (wat altwee oorlede is) en my pa (wat gelukkig nog springlewendig en gesond is). Ek sal vir die een oupa laat skaaptjops en braaibroodjies braai en die ander een kan vir ons potjie maak. My pa is ’n rustiger braaier as ek, so hy kan vir ons ontbeende lambsboud of plathoender braai en ek sal snoek braai vir voorgereg.

Wat is jou gunstelingbraaitoerusting? ’n Toeklaprooster, ’n lekker braaitang en drie bakstene.

Wat is jou gunsteling-drankie met ’n braai? Ons woon nou wel in die Kaap, maar dis net 1 500 kilometer van ’n malaria-area af, so ek drink maar gereeld gin and tonic om my te beskerm teen muskiete en veilig te speel. Van daar skuif ek aan na Klippies en Coke. Die res van die tyd doen ek gehaltekontrole van al die lekker wyn wat hier in die Wes-Kaap gemaak word.

By wie het jy leer braai? My pa.

Wat gee jy die ou wat alle braaitoerusting het? My telefoonnommer, dat ek kan verduidelik dat al wat hy eintlik nodig het, ’n toeklaprooster, ’n lekker braaitang en drie bakstene is.

Na watter musiek luister jy om die vuur? Ek hou baie van Simon and Garfunkel en van Cat Stevens.

Beskryf kort en kragtig die hart en siel van die braai. Die hart is die vuur waarrondom almal kan staan (of sit). Die siel is al die mense wat om daai vuur staan.




More News
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  • Ou hand met nuwe kwekery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za