Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
2011-09-22
Lise Beyers
DIE vure vir Nasionale Braaidag brand oudergewoonte weer hoog op Erfenisdag (24 September). Talle byeenkomste word reeds gereël om nog groter te braai as ooit tevore. Maar wat is dit aan braai dat dit seker een van Suid-Afrika se gunsteling-tydverdrywe is? Ja, soms is dit noodsaaklik om te braai as Eskom die kragkrane toedraai, of as daar net eenvoudig nie krag of gas beskikbaar is nie. Maar bo alles is braai net eenvoudig lekker. Erida du Toit het my ’n rukkie gelede gevra wat my mees onvergeetlike braai was. Dit het nogal dinkwerk geverg omdat ek al in baie pragtige, interessante plekke gebraai het. Maar die braai wat altyd eerste in my kop opduik, is die keer toe ek en my skoonsus, Ronel, by Koos Vos op sy Karoo-plaas naby Van Wyksvlei gekuier het. Een laatmiddag roep hy ons bymekaar om agter op sy ou Land Cruiser-bakkie te klim, en ons vat die pad veld toe. Stadig en versigtig het ons die steilte van Dwaalberg geklim en bo het ons na die verste punt van die berg gery vanwaar ’n mens van hier tot in die hemel kan sien. Dit was ’n perfekte laatmiddag en die sonsondergang en stilte het skoon trane in die oë laat opwel. Ons span toe die kinders in om vuurmaakhout bymekaar te maak en vinnig knetter ’n vuurtjie terwyl die koue van die nag ons begin beetpak. Ons sit almal in heerlike stilte met ’n glasie wyn in die hand. Toe die kole reg is, braai Koos van sy tuisgemaakte Springbok- en lamswors – vinnig tot net gaar. Ons eet dit sommer so met die hande en vee ons blinkgevrete bakkies aan ons moue af. Dis mos braai! Dit is eintlik dikwels moeilik om met braairesepte vorendag te kom – ek geniet die eenvoud van braaigeregte – ’n tjoppie of steak met slegs ’n bietjie sout en peper, ’n lamsrib wat met koljander, sout en peper ingevryf is en langs die vuur staangemaak is totdat dit murgsag is, of selfs net hoenderporsies wat met my gunsteling-soetsuur-marinade uit my skooldae bedruip is en baie stadig gebraai word totdat dit tot die been deurgaar en die vel kraaklekker is en glad nie verbrand nie. En soos wat my ander skoonsus, Barbara, sê: “’n Braai is nie perfek sonder baie braaibroodjies en aartappelslaai nie.” Maar tog is ek nou verplig om iets spesiaals vir die braai uit die mou te pluk. ’n Ou gunsteling as ek ’n klompie mense om die braaivuur wil beïndruk, is om ’n ontbeende skaapboud te braai. Ek sny hom self van die been af, maar as jy nie hiervoor kans sien nie, vra ’n slagter om hom te “butterfly”. Die dag voor die braai maak ek ’n sousie deur die volgende bestanddele bymekaar te gooi: ’n driekwart koppie olyfolie, ’n halwe koppie elk rooiwyn en balsemasyn, drie eetlepels elk opgekapte vars roosmaryn en tiemie, vier ansjovissies tot in ’n pasta gemaak, ’n eetlepel Worcestersous en ses fyngedrukte knoffelhuisies en varsgemaalde swartpeper na smaak. En vir diegene wat van ’n effense branderigheid hou, voeg een opgekapte rissie hierby. Ek vind die beste manier om vleis te marineer, is om dit in ’n groot plastieksak te plaas, die marinade daaroor te gooi en dan die sak toe te bind sodat niks uitlek nie. Die sak word eenvoudig vir 24 uur in die yskas geplaas en elke nou en dan omgedraai. Met die braaislag moet die kole redelik warm wees aangesien die lamsvleis nie langer as 20 minute gebraai moet word nie. Bedruip deurgaans met marinade. Ná die braaityd gaan hy goed bruin aan die buitekant wees en mooi pienk aan die binnekant. Wanneer die vleis van die kole af kom, bedek dit met foelie en laat die bak vir tien minute naby aan die kole rus voordat dit in sentimeter dik skywe gesny word. Geniet dit!
More
News
|