HY moes onkant betrap gewees het, meen familielede van die bekende veearts van Klapmuts, dr Reinhold Lawrenz, ná sy noodlottige sweeftuigval die naweek.
Dr Lawrenz (55) was altyd pynlik akkuraat en voorbereid, sê sy hartseer familie. Hy was ’n instrukteur, ’n ervare sweeftuigvlieënier wat byna elke naweek die lug aangedurf het.
In 2005 het hy in die Ashton omgewing geval, maar goed van die bekkenbreuk herstel.
Dr Lawrenz het wêreldwyd bekendheid verwerf met sy kundigheid oor boerbokke en veral sy stoetkudde Switserse melkbokke op sy plaas by Klapmuts.
Hy was ook ’n spesialisveearts en wyd bekend in die varkboerderybedryf.
Veeartse beskryf hom as “toegewyd”, terwyl talle mense onthou hoe hy kosteloos omgesien het na diere van minderbevoorregtes.
“Iets abnormaals moes hom Saterdag onkant betrap het,” het ’n familielid gesê.
“Hy het 15 jaar ondervinding gehad met sweeftuie en was nooit nalatig nie.”
Die sweeftuig het Saterdag in die Langeberge vermis geraak. Die wolke was juis laag, het ander hangswewers later gesê.
Die wrak is Maandagoggend eers naby die Tradouwpas in die omgewing van Swellendam opgespoor, nadat mis en reën die soektog belemmer het.
Dr Lawrenz laat sy vrou Erna, ’n vader in Bellville en twee susters, in Kanada en Australië. agter.
’n Gedenkdiens word Woensdagmiddag in die St Petri Lutherse Kerk in die Paarl gehou