Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Annie kom huis toe

Annie kom huis toe
 
2008-01-24


’n WORSHOND van die Paarl het negentien dae stoksielalleen in die onherbergsame Karoo oorleef.

Die agtjarige worsie, Annie, haar boetie Jack en eienaar Katrien van der Berg is tydens die Kersvakansie na haar broer se plaas naby Loxton in die Karoo.

Vir dié skoothondjies wat slegs gewoond is aan hul ma se skoot, bed en stoel, asook hul huis se agterplaas, was dit ’n avontuur van ’n leeftyd.

Maar min het hulle geweet dat dit byna ’n tragiese nadraai sou hê.

Met hul aankoms op die plaas was die honde in die sewende hemel.

“Dit was so lekker vir hulle om in die vlaktes rond te hardloop en alles op die plaas te ontdek.

“Kersmiddag het die drie van ons vir oulaas ver gaan stap, want ons moes die volgende dag terugkeer na die Paarl.

“Naby die huis het Jack skielik verdwyn en toe ek nie vir hom kon vind nie, het ek vir Annie teruggevat huis toe, en ek en my broer is met die bakkie terug om vir Jack te soek.

“Gelukkig het ons hom sommer vinnig gevind. Maar toe ons terugkom by die huis, was daar geen teken van Annie nie.

“Dit het begin reën en blits en Annie is juis baie bang vir onweer.

So begin ’n reuse-soektog op die plaas Erasmuskraal, vir die klein stadshond wat soos mis voor die son verdwyn het.

“Ons is veld toe met bakkies en soekligte, maar daar was geen teken van haar nie.

“Die aand kon ek niks slaap nie, want ek het net aanmekaar gedink hoe vreesbevange Annie in die donker, verlate wêreld moes wees.

“Teen 05:00 was almal op en ons is weer veld toe. Al die werkers van die plaas het help soek, ook met perde.

“Teen middag moes ons opgee, want ek moes vertrek na die Paarl, en dit het ek noodgedwonge gedoen met ’n baie swaar hart.”

En so is Katrien en Jack terug tuis en die gewig van Annie se verdwyning het swaar op haar skouers gerus.

“Later het ek gebid dat iemand op die plaas vir ons sal laat weet dat haar liggaam gevind is, net sodat ek weet dat sy nie meer eensaam op die vlaktes ly nie.

“Later het ek maar vrede daarmee gemaak dat Annie teen dié tyd dood moes wees van óf blootstelling óf in die kake van ’n ongedierte.”

En so het die dae verbygegaan: negentien om presies te wees.

Toe lui die telefoon een Sondag.

“Katrien, ons het vir Annie gevind.”

Katrien was stomgeslaan - lag en huil tegelyk.

’n Huishulp op die plaas was besig om die hoenders kos te gee en dit is toe dat haar oog vir Annie gevang het.

Sy het vir haar probeer aankeer, maar die hond was teen dié tyd skoon deurmekaar.

Sy het hulp ingeroep en uiteindelik was Annie veilig in haar arms. Almal was in trane oor die wonderwerk van die hond se oorlewing.

Die telefoon was skaars weer op sy mik, of Katrien spring dadelik in haar motor en durf weer die langpad na die Karoo aan.

“Ek was heeltemal histeries van blydskap toe ek haar weer sien. Ek kon dit nie glo nie.

“My arme Annie was egter rietskraal en weggekwyn, en sy was ’n bondel van senuwees.

So is hulle huis toe en die genesingsproses het begin.

“Eers wou sy niks eet nie en ons is veearts toe. Daar is vasgestel dat sy haar rug beseer het, en ’n tonikum is voorgeskryf om haar gestel weer op te bou.”

’n Week na haar terugkoms is Annie steeds ’n bietjie aan die maer kant, maar sy is duidelik terug op pad na herstel.

“Wat moes sy nie alles beleef het nie, so ’n klein worsie op sy eie? Ek wil nie weet nie. Gelukkig het dit gereën in die Karoo en sy moes met die water oorleef het.”

As Annie maar net kon praat sou sy seker ’n merkwaardige verhaal kon vertel van haar oorlewing en ervaringe in die oop vlaktes van die Karoo.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za