Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Oesvere word reggeskud

Oesvere word reggeskud
 
2008-01-31


Ná verlede jaar se suksesvolle eerste Wellington Wynroete Oesfees, kan besoekers hulle regmaak vir nóg ’n sintuiglike ervaring soos min op die tweede fees wat op 15 en16 Maart dié dorp op horings gaan neem.

’n Naweek van gastronomiese verleiding en pret word vir die kuiermense beplan, met die klem op kos, wyn, jolyt en hope vermaak.

Die Wellingtonners wil met alles in en om hul dorp spog en die organiseerders pas die aantreklikhede in een naweek in. Hopelik sal dit help om die dorp ’n voorkeur-bestemming by besoekers te maak.

Wyn- en kosliefhebbers kan hulle regmaak vir ’n kreefbraai of piekniek langs die dam. Vir die meer aktiewes wat die gevoel van druiwedoppe tussen die tone wil ervaar, gaan die druiwetrappery dalk net die ding wees. Hier sal hulle ook met gunsteling wynmakers uit die streek kan gesels, ’n paar wyne kan proe en ’n geheim of twee te hore kom, dalk selfs ’n bietjie raad kan gee!

Sport- en buiteluggeesdriftiges sal steeds hul gewone paar naweekdruppels kan sweet met ’n 5,5 km pretdraf tussen die wingerde deur, terwyl gholf-betotteldes hul vernuf met die slaan van ’n bal na ’n teiken op die proef kan stel, of die vissermanne met ’n stok en aas sal kan uitspan. Vierwiel-motorfiets- of trekkerritte, of ’n luilekker-staproete langs die Krommerivier aan die voet van die Groenberg, is ook op die program.

Hoewel die meeste kelders sal bontstaan met wynproeë en keldertoere, gaan die kleinspan nie vergete buite hoef te wag nie. ’n Rondbonsery op springkastele, windbuksskiet, ponieritte onder toesig of roomys-stalletjies is hul watertand voorland.

Daar sal ook ’n Oesfees-optog wees die Saterdag waaraan die wynplase sal deelneem.

Kaartjies kos maar R35 per persoon en is van alle deelnemende plase beskikbaar. Die prys sluit ’n komplimentêre wynproe in en die kaartjie geld vir die hele naweek van die Fees. Besoekers word aangeraai om vroegtydig te bespreek.

Besoek www.wellingtonharvestfestival.co.za of kontak die wynroete by tel 021-873-4604 vir meer besonderhede of e-pos wine@wellington.co.za.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za