Kroon gespan op Lena
2008-01-31
ALTESAME 27 jaar gelede het Lena Kroneberg die nood van Wellington se bejaardes raakgesien en is die Bejaardesorgsentrum gestig. Op 23 Januarie het sy haar 80ste verjaardag gevier, steeds aan die roer van die sentrum. Lena vertel: ”Toe ek ’n kind was, het kinders saamgegaan as ouers uitgaan. Só het ons met bejaardes grootgeword en geleer om empatie te hê met hulle.” Sy is gebore en getoë op Wellington, waar sy tot standerd ses by Pauw Gedenkskool was. Sy het haar as onderwyseres bekwaam en sowat vyf jaar lank skoolgehou. Hierna het die sakewêreld haar gelok en vir 35 jaar het sy ’n klere-onderneming besit. ”My besigheid was op die pad en dit het beteken dat ek op grondvlak gesien het hoe ons bejaardes leef, van gegoede huise tot die heel armste.” Die Wellington Vereniging vir Bejaardes is op 3 September 1981 gestig. ’n Behoeftebepaling wat deur studente van Stellenbosch gedoen is, het getoon dat ’n dienssentrum nodig is, en dit het in September 1984 tot stand gekom. In 1995 is die huidige twee eiendomme van die destydse Wellington Munisipaliteit bekom en in Oktober 1991 is die dienssentrum ingewy, nadat geld van die Armoedeverligtingfonds bekom is vir die omskepping daarvan. Fase 2 was die Abbeyfield-huis wat nege bejaardes huisves, en na Lena vernoem is. Haar dryfkrag en sterk waardes het sy ook vir haar kinders geleer en by haar kleinkinders probeer inprent. “Hulle sê ek is streng, maar hulle weet ook my deur is oop vir enige probleem. Dit is net dat ek voel ’n mens moet praat as iets verkeerd is.” Sy het drie kinders: George wat skoolhoof is by Windmeul Primêr, Victor wat voorligting gee by Bergrivier Sekondêr, en Wilna van Rooyen wat areabestuurder is vir Kindersorg op George.
More
News
|