Speelveld is gelyk, sê De Villiers
2008-01-31
May Saal
“TERWYL jy in SuidAfrika is, is Springbok-rugby jou rugby: die speelveld is gelyk vir alle spelers,” het die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, Saterdag gesê tydens ’n ontbytgeselligheid ten bate van die VGK Huguenot. De Villiers het ook gesê dat hy die land se beste talent wat tans oorsee rugby speel met behulp van borge, wil teruglok na die land toe. “Ek gaan volgende week oorsee om van ons spelers te probeer oorreed om terug te kom. Ek wil hê hulle moet in Suid-Afrika speel en rolmodelle hier wees. Daar is borge wat belang stel om ons te help,” het De Villiers beklemtoon. Alhoewel hy gesê het dat die Bok-kaptein, John Smit, dieselfde speelveld sal geniet as die res, het hy sy bewondering uitgespreek vir dié speler. “Ek en John Smit het onlangs ’n goeie gesprek gehad. Ek dink hy is ’n baie begaafde leier,” aldus De Villiers. Hy het ook sy bewondering uitgespreek teenoor die voormalige Stormers kaptein, Luke Watson. “Luke is deel van 200 spelers wat deel gaan wees van die Super 14-reeks. Die speelveld is gelyk vir almal. “Al die druk wat op Luke se skouers geplaas word, is onregverdig teenoor hom. Hy is ’n speler wat ek bewonder en hy was vir my ’n puik kaptein toe hy onder my gespeel het. “Hy is ’n baie sterk mens en die vraag wat ek het, is of ander spelers dieselfde sterk wil en karakter het. “Luke sal soos elke ander speler ’n kans kry. Ons sal nie vooraf oor enigiemand ’n oordeel vel nie,” het De Villiers gesê. Hy het in ’n grappie oor homself gesê dat: “Jy het nie ’n groot lyf nodig om baie verstand te hê nie.” Hy het benadruk dat daar eerstens talent geïdentifiseer sal word en dat die beste man gaan speel.
More
News
|