Hugenoters word saam doktore
2008-01-31
Engela Duvenage
DRIE Wellingtonners - oudleerders van Hoërskool Hugenote ,kan ná afloop van die Desember gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch, die titel “doktor” agter hul name skryf. Hulle is regsgeleerde dr Geo Quinot, wat in 1995 hoofseun van Hugenote was, asook dramaman dr Petrus du Preez en die Afrikaanse skrywer dr Willem Anker. Drs Anker en Du Preez was klasmaats wat saam in 1996 gematrikuleer het. Dr Quinot, jongste seun van Johan en Tilla Quinot, het na skool regte aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, waar hy sy BA Regte in 1998 en die graad LLB albei cum laude geslaag het. In dié tyd was hy ook ’n studenteraadslid wat onder meer studentepolitiek as deel van sy portefeulje gehad het. Hy het in 2000 die Kanseliersmedalje as topstudent van die US ontvang, waarna hy in 2001 na die Verenigde State van Amerika vertrek het om danksy ’n Fulbright beurs sy meestersgraad in Amerikaanse reg aan die Universiteit van Virginia te behaal. Sy belangstelling in staatskontraktering- wat die kern van sy doktorale proefskrif was, het hier reeds ’n basis verkry. Terug in Suid-Afrika het hy in 2003 sy klerkskap in Kaapstad verrig, waarna hy aangestel is as lektor in Administratiefreg in die Departement Publiekreg van die US. Dr Quinot, wat intussen bevorder is tot senior lektor en as advokaat toegelaat is, sê sy passie lê in die akademiese sy van die reg, en hy sien sy doktorsgraad dus as ’n loopbaanskuif in die regte rigting. Sy navorsingswerk het gefokus op die reëls wat vir die staat geld wanneer dit by kommersiële transaksies betrokke is. “Dit is ’n gebied wat eintlik tussen die privaat- en publiekreg, die twee hoofvertakkings van ons reg, val,” verduidelik hy die onsekerheid wat oor die kwessie heers. Dr Anker volg in die akademiese voetspore van sy pa, prof Johan Anker van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Hy is besig om vir hom ’n naam te maak as Afrikaanse dramaturg en skrywer, en het verlede jaar die eksperimentele roman Siegfried die lig laat sien wat goeie resensies van literêre kenners verkry het. Dr Anker, wat ook al dramas soos Skroothonde die lig laat sien het, het verlede jaar op Aardklop die Sanlamprys vir sy drama Slaghuis ontvang. Dr Anker het sy studieloopbaan ten volle by die Universiteit Stellenbosch deurloop. Hy het in 1998 sy BA met Afrikaans, Engels en Filosofie ontvang, waarna ’n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands gevolg het. Hy het in 2002 ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns voltooi, en is sedert 2006 aan die US verbonde as dosent van dié gerekende skeppende kursus. Sy doktorsgraad, wat voltooi is met prof Louise Viljoen as promotor, kyk na hoe die skrywers Breyten Breytenbach en Alexander Strachan die nomadiese figuur of swerfkarakter in hul tekste gebruik. Dr Anker hoop om vanjaar self nog ’n kreatiewe skryfwerk die lig te laat sien, maar vir eers is hy gemoeid met die vertaling van Crave deur die Britse dramaturg Sarah Kane. Dié stuk sal as Smag vanjaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op die planke wees met Jaco Bouwer as regisseur en met Nicola Hanekom, Erica Wessels, Toast Coetzer en Eben Genis in die rolverdeling. Hy sê dis die eerste keer dat hy by die vertaling van ’n drama betrokke was.” Sy voormalige klasmaat, dr Petrus du Preez, het sy doktorale proefskrif onder promotorskap van prof Temple Hauptfleish van die US Departement Drama behaal. Hy sê dat sy kop ná skool in die rigting van joernalistiek gestaan het, maar dat drama een van sy vakke was as deel van die BA in Kommunikasiekunde wat hy aan die Universiteit Vrystaat behaal het. Die kreatiewe gogga, wat hy van sy ouers Louis en Cornelia geërf het, het hom behoorlik vasgevat en is hy na die US om ’n meestersgraad in Drama te voltooi met ’n spesifieke fokus op die kreatiewe skryf van dramas. Sy doktorale proefskrif kyk na die gebruik van toneelpoppe en maskers in die toneeltradisie van Afrika en hoe dit oor tyd heen verander het. “Voorheen was dit baie sterk religieus van aard en deesdae word dit meer as ‘entertainment’ ingespan in opvoerings,” verduidelik hy. “Toneelpoppe gee mens soveel groter beweegruimte op ’n verhoog, en ’n pop kan byvoorbeeld iets sê wat ’n mens nooit kan waag om te doen nie,” glo dr Du Preez. Op die toneelfront is hy vanjaar baie bedrywig, met die KKNK in gedagte. Hy speel in die Afrikaanse vertaling van die moderne Franse dramaturg Jean Genet se stuk Die Diensmeisies. Daarby het hy ook die sprokie oor die Slapende Skoonheid vir die Suid-Afrikaanse gehoor aangepas, en is ook die regisseur. Hy is tans aan die repeteer daarvoor saam met akteurs Nicole Holm en Martelize Kolver. Teaterpoppe – die tema van sy doktorsgraad - figureer in hierdie kinderteaterproduksie. Hy is deesdae deeltydse dosent in toneelspel en dramawetenskap aan die US.
More
News
|