Daar ís lewe na tragedie
2008-01-31
Lise Beyers
VANDAG is dit presies ’n jaar gelede nadat ’n gesinsmoord in Groenheuwel, Paarl, plaasgevind het wat die hele vallei geskok het. Konstabel Carl Scharnick het dié noodlottige dag by sy skoonouers se huis in Endlerstraat aangekom. Hy en sy vrou, Mesadie, het huweliksprobleme ondervind en sy en hul drie kinders het tydelik hier by haar ouers gewoon. Sonder waarskuwing het die polisieman op sy vrou en skoonouers, Tom en Clera Meyer (munisipale raadslid), geskiet. Tom en Mesadie is op die toneel dood. Clera is drie keer raakgeskiet en het wonderbaarlik oorleef. Carl het kort hierna ten aanskoue van die hele buurt homself in die kop geskiet op die voorstoep van die huis. Hoe oorleef enigiemand so ’n nagmerrie waarin jou naastes voor jou oë uitgewis is? Clera kyk jou diep in die oë voordat sy antwoord, en mens kom dadelik agter dat sy weer aan daardie vreeslike dag terugdink. “Ek sal nooit vergeet hoe Carl vir my in die oë gekyk het voordat hy die sneller getrek het nie. Dit bly by my en daagliks verwyt ek myself met vrae of ek nie iets kon gedoen het om die ongeluk te keer nie.” Clera praat van die voorval as ’n ongeluk, en verwys so daarna. “Ek het by die loop van die pistool afgekyk en aan myself gesê vandag gaan ek nie sterf nie.” Sy is in die kop, nek en buik getref en dokters moes veg om haar lewe. “Ek het nog na my buurvrou se huis gekruip en vir haar gevra om die polisie te bel. Ek weet nie waar ek die krag gekry het nie. “Hierna het ek op ’n trap gesit en wag vir die ambulans. “Toe ek uit die hospitaal kom, het ek geensins geweet hoe ek weer die stukke van my lewe gaan optel en voortgaan nie. “Die verlange is onbeskryflik. Tom en ek was 30 jaar lank getroud en in dié tyd het ons ’n vennootskap gevorm. My dogter was en is steeds deel van my liggaam. Sonder haar hier is dit asof ’n deel van my weg is. “Soms sien ek iemand op straat wat van agter af vir my herinner aan Tom of Mesadie en ek hardloop nader, net om te besef dat hulle vreemdelinge is. “Dikwels dink ek steeds dat ek vasgekeer is in die middel van ’n nagmerrie en ek sal enige oomblik wakker skrik. “Ek het egter besef dat ek vir die res van my lewe met dié nagmerrie sal moet saamleef.” Clera het egter nie gaan lê en haarself bejammer nie. Sy het haar plig as DA- raadslid vir Groenheuwel kort na haar herstel voortgesit en aan die diep kant ingeduik om haar gemeenskap te help en by te staan. Nou, veral ná die ongeluk, is sy betrokke by veldtogte om mishandelde vrouens en kinders te help. Sy gaan ook voort met haar werk tussen minderbevoorregte mense en het aktief by die ACVV se welsynswerk betrokke geraak. “Ek moet elke dag op sy eie hanteer. Party dae is makliker as ander. Dikwels staar die nag vir my soos ’n duiwel in die gesig, maar ek kom daar deur.“ Clera het nou volle voogskap oor haar drie jong kleinkinders, en maak hulle nou vrou-alleen groot. “Ons het al gepraat oor wat op daai dag gebeur het, maar ek vertel vir hulle keer op keer dat hulle pa baie lief was vir hulle en hul ma. “Soms wil hulle weet hoekom hy dit gedoen het, maar niemand het die antwoord hiervoor nie. “My oorlewing is ook grotendeels te danke aan my Skepper, vriende en die gemeenskap wat vir my bygestaan het. Hiersonder sou dit nog baie moeiliker gewees het.” Clera vertel dat ten spyte van die hartseer wat altyd daar sal wees, het sy baie geleer uit die tragedie. “Die lewe is so waardevol en kort. Ons moet elke dag geniet en ons naastes waardeer. “Ek het gewoon in ’n glashuis wat getuimel het. Maar ek het weer opgestaan.”
More
News
|