Malané BosmanDIE kleine Michelle Munnik (3) van Wellington glimlag vandag breed, al moet sy nou tien maande lank met krukke onder die arms en staalpenne in haar regterbeen oor die weg kom.
Michelle het in haar drie jaartjies in honderde harte gekruip, met haar sonskyn-geaardheid en spontane geselsies.
Die dogtertjie se koms was ’n angstige afwagting vir die ouers, insp Eugene Munnik van die Wellington polisie en sy vrou, Jackie.
’n Roetine-sonar op ses maande het getoon dat hul ongebore kind moontlik ’n sindroom het wat ernstige geboortedefekte tot gevolg sou hê.
Sy kon met ’n gesplete verhemelte, verwronge gesig, oop ruggraat of doof en blind in die lewe kom.
Die ouers was verward, geskok en emosioneel. Dit was hul eersteling en nou moes hulle aborsie oorweeg.
“Ons het 24 uur gehad om te besluit,” onthou Munnik.
“Ons is van die eerste sonar in die Paarl, na die Kaap vir ’n tweede opinie, en toe ’n derde.
“Die moontlike afwykings waaroor ons ingelig was, was skrikwekkend.
“Maar op pad terug huis toe die dag het ons kalm geword, en ons het geweet ons sal ons baba behou.”
Familie en vriende het die hartseer en vertwyfeling op hul gesigte kon lees. Hulle het egter hul vertroue “in ’n Hoër Hand gelaat”.
Die krulkoppie is op 25 Mei 2004 gebore, volmaak toe haar ouers haar die eerste keer vashou.
Daar was trane van blydskap en harte wat oorloop van vreugde. Slegs haar een beentjie was 3cm korter as die ander.
Selfs met bydraes van die mediese fonds, sou haar ouers uit eie sak R30 000 moes opdok vir toerusting en nasorg wat saam met die operasiekoste ver oor die R100 000 sou beloop.
Ekstra onkoste waarvoor hulle met liefde êrens sou afknyp, is die R450 per nag om by hul kind in die hospitaal oor te slaap.
Hoe nader dit aan die tyd vir die operasie gekom het, hoe dieper het die bekommernis oor finansies vir Munnik gedruk.
En boonop het die hospitaal laat weet dat die dogtertjie nie opgeneem sal word voordat die volle bedrag wat nie deur die mediese fonds gedek gaan word nie, met haar aankoms betaal is nie.
Spanmaat insp Folinda Gordon onthou: “Ek hoor nog duidelik hoe hy sy vrou bel en sê sy moet solank ’n koper vir haar motor kry, waarop sy antwoord dat sy reeds begin het.”
Gordon vertel: “Die moedeloosheid was op sy gesig en die trane het so vlak gelê soos ’n kraan wat net oopgedraai kan word.”
In dié tyd het ’n ander kollega, Adele Strachan, begin om motiveringsbriewe te skryf en met oproepe en besoeke donasies gesoek.
Munnik het niks hiervan geweet nie. Die telefone het aanhou lui, met die kerk, boere, werksgenote en vreemde mense wat bydraes maak.
Vrydag 25 Januarie het Adele ’n bedrag van R14 700 voor Munnik neergesit.
“Jy kon die verligting op sy gesig sien,” sê Gordon.
En al wat sy toe sê is, “Sien jy, Munnik, God het jou gebede verhoor.”
Sondag het die NG Kerk Wellington-Oos R10 000 en die Sons of God Motorfietsbediening R3 250 aan die gesin oorhandig.
Maandag het Eugene en Jackie Munnik met hul dogtertjie op die arm en R30 000 in die hand by die hospitaal ingestap.
In ’n operasie van meer as vyf uur is ses penne ingeplant, met skroewe wat tien maande lank elke dag vier keer met ’n kwart millimeter verstel moet word.
Die been behoort in dié tyd 6cm te rek, en wanneer die operasie in Michelle se agtste jaar herhaal word, sal haar been nog 6cm moet rek.
Intussen is ’n trustfonds met die naam van Michelle Munnik deur die NG Kerk Wellington-Oos gestig en wil die gesin almal bedank vir die donasies en gebede.
“Daar’s nie woorde om die dankbaarheid te beskryf nie,” het Munnik gesê.
“Nou weet ons daar is nog mense wat omgee, en nie net mense wat ons ken nie, ook vreemdelinge.”