’n OUD-LEERDER van die Hoër Meisieskool La Rochelle het verlede week in Koeweitstad gesterf weens longontsteking en komplikasies wat later ingetree het.
Zania Prinsloo (38) se moeder is verlede week kort voor haar dood, na Koeweit.
Sy bring môre die liggaam na Suid-Afrika terug.
Zania het in 1988 gematrikuleer, waarna sy haar aan die ou OKB as onderwyseres bekwaam het. Sy het skoolgehou op Murraysburg, Queenstown, Somerset-Wes en vier jaar in Engeland.
Daarna het sy vir 18 maande in Koeweit skoolgehou.
Sy laat haar ouers, Koos en Eln Prinsloo van Hoofstraat 77, Paarl, ’n broer, Gerhard, ’n bourekenaar van Johannesburg, en tweelingsusters, Lindi en Dedri van die Paarl, agter.