DIE FASfacts het in samewerking met die NG Kerk Riebeek-Kasteel ’n Fetale Alkohol Sindroom bewusmakingsprogram aangebied by vier plase in die Drakenstein-area - Bosplaas, Brakvlei, Vinkrivier en Schoongesicht.
Die doel van die program is om kwesbare groepe in geïsoleerde landelike gebiede in te lig oor die ernstige langtermyn gevare en gevolge van alkohol-gebruik vir die ongebore baba tydens swangerskap.
Die drink van alkohol tydens swangerskap veroorsaak permanente breinskade by die ongebore baba wat lewenslank teenwoordig is.
Navorsing het vasgestel dat die Wes- en Noord-Kaap van die gebiede is met die hoogste voorkomssyfer van Fetale Alkohol Sindroom ter wêreld.
FASfacts het homself verbind tot ’n drastiese afname in die voorkoms van FAS.
FASfacts se sukses met die Bob-program word toegeskryf aan die metodiek van Ervaringsleer wat toegepas word, wat insluit die gebruik van visuele materiaal en toepaslike aktiwiteite om die FAS-boodskap oor te dra.
Die program vereis aktiewe deelname van elke persoon met deurentyd keuses wat gemaak moet word vir langtermyn sukses.
Beide die plaaswerkers en eienaars het die program interessant en leersaam gevind en was duidelik onbewus van die ernstige en tragiese langtermyn gevolge van alkoholgebruik tydens swangerskap.
FASfacts kan gekontak word by 023342-7000, of e-pos info@fasfacts.org.za.