Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skoolhoof, adjunk lê tuig neer

Skoolhoof, adjunk lê tuig neer
 
2008-02-21


MET een slag het 71 gesamentlike onderwyservaringsjare by een sekondêre skool in Paarl verdwyn.

Douglas Abels (60), skoolhoof by Klein Nederburg Sekondêr, en sy adjunkhoof, Wilfred Saville (55), het albei einde verlede jaar die onderwystuig neergelê.

Abels het 38 onderwysjare agter die blad, terwyl Saville ná 33 jare met vervroegde pensioen die onderwys verlaat het. Neville Lewis neem tans as skoolhoof waar.

Abels meen dat die oorblywende personeel oor baie ervaring en vaardighede beskik.

“Hulle moet net die geleentheid gegee word om hulself uit te kan leef,” het Abels aan huis in Tulbaghstraat, Charleston Hill, gesê toe Paarl Post met hom gaan praat het.

“My raad aan die onderwysers is dat hulle moet besef dat hulle goud werd is en dat hulle grotendeels bepaal wat die toekoms van die gemeenskap gaan wees.

“Hulle moet daarom net die beste gee waartoe hulle in staat is ten spyte van stremmende faktore.”

Abels het sy matriek by Noorder-Paarl Sekondêr in 1965 behaal en toe na die destydse Universiteitskollege van Wes-Kaapland in Bellville gegaan om sy BAgraad te voltooi en sy Onderwyssertifikaat te behaal.

In 1970 het hy by Paulus Joubert gaan skoolhou. In 1980 word hy departementshoof by Klein Nederburg, nog op Charleston Hill.

Hy verrig diens as adjunk eers onder Albert Bastiaan en toe Japie Charles as skoolhoofde. Die afgelope tien jaar was hy self hoof by Klein Nederburg.

“Ek is tans nog besig met self-oriëntering en geniet nog maar die aftrede sonder die stres en die skool se verantwoordelikhede, maar die onderwys is nooit regtig klaar nie,” het Abels, getroude pa van twee kinders geskerts.

Wilfred Saville het ook glad nie stil gesit toe Paarl Post hom opspoor by sy huis in Van den Bosstraat nie.

Met ’n slyper in die hand was hy besig om sy agterplaas uit te plavei en al die plante waarmee hy hom andersins besig hou, is netjies eenkant gepak.

Dié pa van drie kinders is steeds uitgesproke oor die onderwys.

“Ek het deur ’n slypskool gekom met die ou onderwysstelsel en die nuwe Uitkomsgebaseerde Onderwys.

“Die benaderings en onderwysstyle verskil heeltemal en waar die eerste eksamen-gebaseerd is, is die ander een meer prakties en vaardigheidsgerig.

“Die ou onderwyskriteria en die aanleer van lees- en syfervaardighede het verswak weens die afwesigheid van drilwerk en ons gaan ’n groot groep kinders hê wat matriek het, maar wat halfgeletterd is,” het hy bekommerd gesê.

Hy voel dat die onderwysowerhede leiding moet gee op grondvlak.

Hy was slegs by twee skole ná sy onderwysopleiding by die destydse Skiereilandse Technikon: John Ramsey Hoërskool in Bishop Lavis vir vier jaar en toe by KN waar hy sedert 1997 adjunk was.

Hy het besluit om met vervroegde pensioen die onderwys te verlaat “sodat ek darem meer tyd tot my en die familie se beskikking kan hê, en my gholf-liefde kan uitleef.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za