Huisvrou kry haar matriek ná 37 jaar
2008-02-21
’n HUISVROU van Paarl-Oos, Charmaine Martin, het onlangs die matriekeksamen geslaag ná 37 jaar afwesigheid van die skoolbanke. Martin was ’n toesighouer by matriekeindeksamens by Noorder-Paarl Hoërskool en sy kon gereeld sien hoe matrikulante kopkrap tydens die eksamen. Sy het besluit om haar kwalifikasie verlede jaar te voltooi nadat sy bewus geword het dat die skoolkurrikulums binnekort landswyd sou verander. “Ek het besluit dat die tyd om my matriek klaar te maak nou is en om dit verder te vertraag, ’n fout sal wees. “Om matriek te voltooi en ook huisvrou te wees is nogal baie werk. Ek het twee kinders en ’n kleinkind wat by my bly. “Ek moes vir my matriekvakke leer terwyl ek huishou en soms het dit maar moeilik gegaan,” het Martin gesê. Sy het Afrikaans (HG), Engels (HG), Huishoudkunde (HG), Wettereg (HG) en Strafprosesse en Strafreg (HG) in 2007 voltooi. Martin is ’n bekende gesig onder skoolleerlinge. Soms het van die matrikulante ’n draai kom gooi om te sien hoe dit met haar voorbereiding vir die eksamen gaan. “Ek was soms bly dat hulle my kom besoek, want hulle het my gemotiveer om nie tou op te gooi nie. Ek dink ook dat ek vir hulle dalk ’n inspirasie kon gewees het omdat hulle kon sien dat ’n mens nooit te oud is om te leer nie.”
More
News
|