Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Mario se bene gee hom vlerke

Mario se bene gee hom vlerke
 
2008-02-28


Engela Duvenage

DIE meeste jong mans het net een ding in hul kop – om ’n motorlisensie te kry.

Die 18-jarige Mario van Wyk het egter onlangs vlerke en vryheid van ’n ander aard gekry – ’n nuwe paar kunsbene.

En, sê hy, gee kans, daarmee gaan hy eendag nog leer motor bestuur.

Danksy ’n bietjie voorsienigheid en die hulp van vrywilligers wat sy pad gekruis het, kon Mario die Kersfees op Wellington vier met ’n splinternuwe paar bene – kompleet met ’n netjiese paar seilskoene daarby.

Dit was nadat hy twee maande se intensiewe rehabilitasiewerk by die Wes-Kaapse Rehabilitasiesentrum by Lentegeur in Mitchellsplein ondergaan het.

Sy ma, Sara, sê haar bors trek nou nog benoud toe as sy dink aan daardie vreeslike paar dae toe Mario as ’n drie maande oue babatjie met ’n erge maagaandoening in die Vredendalse hospitaal opgeneem is.

Komplikasies het ingetree.

Weens probleme het sy niere oorwerk, en is die bloedsomloop na sy beentjies belemmer.

“Dit het so van sy tone af pers geword,” onthou sy.

Hy is uiteindelik na die Rooi Kruis Kinderhospitaal in Kaapstad verskuif, waar sy linkerbeen onder die knie afgesit is, en sy regterbeen bo die knie.

Hy het sy eerste paar kunsbene gekry toe hy drie jaar oud was.

Sara en haar man Flip het in 1996 vanaf Klawer getrek na die plaas Slangrivier, waar Lynton Park wyne gemaak word. Hulle werk onderskeidelik as spanleier en voorman op hierdie Wellingtonse wynplaas.

Mario het toe by die Ligstraal Skool in die Paarl begin skoolgaan. Daar het hy heelwat handwerk geleer, en het veral die weef van rottangmandjies baie geniet.

Sara vertel dat Mario ’n baie gemoedelike en behulpsame seun in en om die huis is, en dat hy nie skaam oor sy gestremdheid is nie. Hy en sy jonger broer is ywerige bloekomhoutkappers.

“Ek moet soms vir hulle sê dis nou eers genoeg, en as daar nie blokke is om te kap nie, raak hy ongeduldig,” vertel sy oor Mario se werkywer.

“So ’n hoop hout kap ek maklik in ’n halwe dag,” vertel Mario trots.

Soos wat hy gegroei het, moes Mario oor die jare ‘n ander paar bene kry.

Volgens Sara was dit baie keer ’n rompslomp van rondbel en rondry vir afsprake en passings - soveel so dat sy begin moed opgee het om weer vir hom ’n paar bene te kry.

Die feit dat Mario so gemaklik op sy knieë kon rondbeweeg of kruip, en weldra ook ’n rolstoel gekry het, het gemaak dat sy die saak van die bene eers daar gelos het.

“Maar ek het in my hart geweet dat hy eendag vir my kan vra ‘Mammie, hoekom het jy nie vir my vir bene gesorg nie’.

“En dat ek dan rekenskap moet gee. Ek het net vertrou dat ek eendag hulp sal kry.”

Voorsienigheid het gekom in die vorm van Surette Moggee.

Surette het van die behoefte vir ’n nuwe paar bene gehoor, en met haar arbeidsterapeut-suster, Enge Verwey, gesels.

Enge is projekbestuurder van die Sibusisiwe Community Care welwillendheidsorganisasie.

Gedurende ’n kanovaart op die Oranjerivier is die bal verder aan die rol gesit toe Enge vir Hildegard van Jaarsveld, ’n arbeidsterapeut by Lentegeur, ontmoet.

“Dit het dit net soveel makliker gemaak om iemand te ken vir wie mens kort-kort kon bel en vra hoe die proses verloop,” vertel Enge.

’n Plek het in November by Lentegeur beskikbaar geraak, en Hildegard het hom self onder hande geneem en deur die klippekou-proses van rehabilitasie geleer om met sy nuwe paar bene oor die weg te kom.

“Ek moes baie op die mat oefen om my bene oor te swaai, en dan oefen om my nuwe bene self aan te trek,” onthou hy die urelange oefeninge.

Tyd vir pret was daar darem ook, en Mario het ’n lewenslustige paar vriende van sy ouderdom in Lentegeur gemaak. Met ’n netjiese swaai uit die heupe stap Mario nou al lekker by die tuinpaadjie af, al is dit nog met die hulp van krukke.

Die volgende uitdaging is sy inskakeling by die Drakenstein Sentrum vir Persone met Liggaamlike Gestremdhede, waar hy die fynere kunsies van stoffeerwerk gaan leer. En wie weet, dalk sal hy eendag nog self na sy werkplek kan bestuur.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za