Malané BosmanDIE jaar het vir Johann Hanekom en sy gesin van Wellington begin met groot planne om in Mosambiek ’n sendelingkamp op te rig.
Tot Dinsdag 22 Januarie, toe Johann (49), ’n rekenaarkonsultant, ’n brandpyn in sy regterboud gevoel het. Dit was so asof iets onder die vel ontwikkel.
Sy huisarts het gesê hy moet maar terugkom indien dit erger raak, en teen die Saterdag was dit so opgeswel, en was hy so koorsig, dat hy in die hospitaal opgeneem moes word.
Ná ‘n operasie waar die swelling gesny en skoongemaak is, is Johann oorgeplaas na die Kingsbury Hospitaal in Claremont.
Nekrotiserende Fasciitis is ’n infeksie wat vinnig versprei na die weefsel en is bekend as die “vleis-etende siekte”. Dit word meestal veroorsaak deur die Streptococcus bakterie.
Dit is geensins bekend hoe of waar Johann die infeksie opgedoen het nie. Hoewel raar, is die sterftesyfer sonder behandeling 70%, met erge liggaamskending in dié wat dit oorleef.
Die Maandagnag het sy vrou, Cecelia, om 02:00 tuisgekom en saam met hul vier dogters in die sitkamer van hul plaashuis op Hexberg verse uit die Bybel op papier geskryf en dit op die muur geplak.
“Johann het toe gehallusineer en sy oë het omgedop, maar ons het nie een oomblik moed opgegee nie. ’n Gebedsketting is regoor die wêreld gevorm.
“En toe het die een na die ander wonderwerk begin. Selfs toe sy longe onder een van die operasies platgeval het, het ons gebid en minute later het die dokter uit die teater gekom en gesê sy longe is nou weer so sterk dat die longmasjien afgeskakel word.”
Johann was sewe dae in ’n hoogsorgeenheid en is daarna oorgeplaas na die intensiewe eenheid waar hy toegerus is met stoma-sakkies en gekoppel is aan ’n respirator.
In dié tyd moes hy agt punte bloed, drie antibiotika drups en serum toegedien word. In agt sessies van twee en ’n half uur elk was hy in ’n revolusionêre hoëdruk suurstoftenk om die infeksie teen te werk.
Die bakterie het na die weefsel versprei en die prognose was nie goed nie.
“Die pyn was asof iemand jou bolip oor jou kop trek,” het Johann gesê.
“Die wond op my boud was so groot weggesny soos ’n eetbord. Die derde keer dat die wond skoongespuit is kon ek dit nie meer verduur nie. Daarna is dit onder verdowing in die teater gedoen.
Johann was drie weke lank onder verdowing.
“Die eerste keer onder hoëdruksuurstofterapie was ek onder verdowing, met pype deur my neus en mond.
Dit was ’n verskriklike ondervinding. Ek kon nie behoorlik sien nie. Ek was deurmekaar. My ore wou bars van die drukking.
“Die lakens was deurdrenk van my sweet. Ek was so dors, en ek mag nie ’n druppel gedrink het nie. Ek het stemme om my gehoor, en gedink ek is op die pad na die hel.”
Met opvolgterapie was Johann gesonder en nádat die voordele aan hom verduidelik kon word, rustiger.
Johann was tien keer in die teater om die oop wond te reinig. Daar is altesaam 1kg vleis uit sy boud gesny.
Op 18 Februarie is hy vir die elfde keer in die teater, toe vir ’n veloorplanting.
Cecelia het party nagte sommer in hul bakkie buite die hospitaal geslaap.
Die Hanekoms glo hulle sou nie deur die nagmerrie kon gekom het sonder hul geloof en die wêreldwye gebedsketting nie.
Vriende, familie, vreemdelinge en die mediese personeel het hulle deurentyd ondersteun.
Vandag is Johann terug op Hexberg en maak weer oudergewoonte grappies.
“As ek van Mosambiek af terugkom, dan gaan ek hospitaal toe - om ’n breuk te laat regmaak.”
Dis wat eintlik vanjaar op Johann Hanekom se mediese kalender was.
* A Wellington father of four survived the killer disease, Necrotizing Fasciitis, a flesh-eating bacteria, which left him with a gaping wound on his buttocks.