Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Strokiesprente gee lewe aan stories

Strokiesprente gee lewe aan stories
 
2008-02-28


Engela Duvenage

“EK het al hoevele matrieks met hierdie boeke gehelp om hul Engelse letterkunde deur te kom, en om Shakespeare danksy die prente ’n bietjie meer verstaanbaar te maak.”

So gesels Dolf Etsebeth, inwonende hoof van die Andrew Murray Kinderhuis, oor sy versameling van Classics Illustrated, ’n reeks geskiedkundige strokiesboek-verwerkings van die wêreld se bekendste letterkundige werke.

Daardeur het talentvolle strokiesprentkunstenaars sedert die 1940s gestalte gegee aan honderde klassieke werke. Alhoewel dit verkorte weergawes is, word daar nougeset by die oorspronklike verhaallyn en woorde van die boeke gehou.

Benewens die verhaal self is ’n biografie van elke skrywer ook ingesluit.

Dolf tree vanjaar na byna 25 jaar se waardevolle werk by die kinderhuis af.

Sy versameling, wat netjies in plastiekverpakkings en bokse geliasseer is volgens Classics Illustrated se soms verwarrende numeringsisteem, is ’n skatkis van titels.

Dis nie net Shakespeare wat in die bokse staanplek kry nie, maar ook Dumas, Hugo, Austen en Dickens.

Onder die bekendste titels is Don Quixote, Frankenstein, Hamlet, The Hunchback of Notre Dame, Jane Eyre, Moby Dick en Oliver Twist.

Volgens Dolf is daar net ’n handjievol versamelaars in Suid-Afrika wat oor ’n volledige stel van die strokiesboeke met hul kenmerkende geel reghoek op die voorblad beskik. Self kort hy sowat ses uitgawes om sy stel volledig te maak.

Hy onthou nog hoe hy as jong seun begin het om hulle te versamel.

“Saterdagmiddae het jy fliek toe gegaan met jou boeke, en dan hulle so oor jou arm gepak om dit uit te stal en te ruil.”

Die Classics Illustrated was heelwat duurder as ander strokiesboeke van hul tyd. Volgens Dolf kon mens vier ander reekse gekry het vir die prys van een Classics Illustrated.

“Daarvoor sou jy ’n fliekkaartjie en ’n kougom kon gekoop het.”

Destyds het baie mense neergesien op die Classics Illustrated-reeks, as sou dit letterkundige werke afwater. Daar is ook gevrees dat dit jongmense sou verhoed om die oorspronklike teks te lees.

“Deesdae is mens net te bly as die jongmense minstens darem net hierdie boekies lees, vir blootstelling!” is Dolf se ironiese waarneming.

Volgens die boek Classics Illustrated: A Cultural History, with Illustrations, is die reeks in Oktober 1941 van stapel gestuur met die publikasie van ’n 64-blad verwerking van Alexandre Dumas se The Three Musketeers.

Die reeks, wat aanvanklik bekend gestaan het as Classic Comics, was die breinkind van die Russies-gebore Albert Kanter.

Kort op die avonture van die dapper Franse swaardvegters het ook Ivanhoe, The Count of Monte Cristo en The Last of the Mohicans gevolg.

Die stygende koste van papier het weldra veroorsaak dat die boekies tot 48 bladsye gekrimp het.

Soos wat die reeks se gewildheid gegroei het, so het die gehalte van die kunswerke ook van krag tot krag gegaan.

“Deur na die konteks van elke prentjie te kyk, kan die kinders visualiseer wat die skrywer van die verhaal probeer weergee,” glo Dolf.

“Dit maak dit net vir hulle soveel makliker om die inhoud verder te kan verstaan en te interpreteer.”

Die reeks is na Classics Illustrated in 1947 herdoop nadat daar reeds 34 boektitels verskyn het. Sowat 200 miljoen uitgawes is tussen 1941 en 1962 alleen verkoop, en was uiters gewild onder jongmense en soldate.

“Dis met die skeepsvragte vol na soldate op die front in die Tweede Wêreldoorlog verskeep om hulle besig te hou,” vertel Dolf.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za