Engela DuvenageDIS nou skoene met persoonlikheid, het menige besoeker aan verlede jaar se Murray Kersmark op Wellington gedink toe die decoupage-ver- sierde skoeisels van Ada de Jager daar uitgestal is.
Ada en haar onderwyser-man Johann het sowat 12 jaar gelede na Wellington getrek nadat hulle lank in sendingonderwys betrokke was.
“As mens so lank in die sending was, leer ’n mens om in geloof te leef omdat jy geen vaste inkomste het nie, en om te help om die pot aan die roer te hou,” vertel dié oud-leerkrag in haar huis op die skoolgronde van Hugenote Hoërskool, wat vol van haar verskillende handvaardighede is,
Sy het sowat 16 jaar gelede begin met die maak en verkoop van driedimensionele kaartjies, waarvoor sy allerlei gekleurde papier, blinkertjies, plakkers en inkpatroondrukstensils gebruik. Haar eerste stensils het sy gekerf uit ’n uitveër, onthou sy.
Vandag bestel sy hulle uit die VSA, en het oor die jare heen reeds ’n wye verskeidenheid van hulle opgebou wat sy almal netjies in haar werkkamer liasseer saam met haar ander kaartjie-benodigdhede.
Die idee om seiltekkies en waterstewels met decoupage-tegnieke en servette oor te trek het sy juis gekry van een daarvan, waarop ’n netjiese paar versierde waterstewels pryk.
Haar versoek aan haar man om ’n waterstewel wit te verf om as agtergrond vir ’n servet te dien, is aanvanklik met ’n frons begroet. Toe hy egter die resultate sien nadat sy ’n geel blommetjieservet daarop aangebring het, moes hy erken: “Ek het nog nooit so ’n goeie ‘before and after’ gesien nie!”
Dié eerste maaksel gebruik sy deesdae as bêreplek om die gesin se muurbal- en pluimbalrakette in staan te maak.
Sy verkoop gewoonlik die stewels so eeneen, onder meer as blompotte en blombakke, en die kleineres vir penhouers of mooi tafelversierings om servette in te sit.
Ongelukkig laat haar tegniek dit tans nie toe dat die skoene lank in water week nie, en gaan die versiering op die waterstewels byvoorbeeld nie lank in die reën hou nie.
“Die tekkies is egter byvoorbeeld ideaal om in die somer te dra, of vir ’n lekker bykomstigheid vir ’n partytjie, en jy kan dit met ’n klam lap afvee as dit vuil raak,” vertel sy.