Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Breytenbach-sentrum kry nuwe baasbrein

Breytenbach-sentrum kry nuwe baasbrein
 
2008-02-28


Engela Duvenage

IN die kantoor van Theo Kemp, die eerste uitvoerende bestuurder van die Breytenbach-sentrum op Wellington, is daar twee waaiers, ’n koffiemasjien wat nog nie ingeprop is nie, ’n Woordfees-program, ’n blink skootrekenaar waarna hy gereeld loer vir eposse, wynbokse, reklamemateriaal oor uitstallings en kunstenaars, en drie werke deur die digter-skrywer-kunstenaar Breyten Breytenbach.

Dié aanvoelbare skeppende invloed in sy kantoor is ’n bonus van sy nuwe werk, erken hy op sy dralende manier.

“Toe ek in Februarie begin het, kon ek self kies watter van sy werke wat hier is, ek in my kantoor wil hê,” kom dit sigbaar ingenome dat hy ’n ruimte met een van Suid-Afrika se grootste kreatiewe geeste deel.

Dié selfdoener-organiseerder is nou in beheer van die samestelling en reël van aktiwiteite wat in die sentrum aangebied word om onder meer digkuns, beeldende kunste, letterkunde en musiek te bevorder.

Die Breytenbach-sentrum, wat ingerig is in Grevillias, eens die tuiste van die skeppende Breytenbach-familie, is verlede jaar geopen en poog om die kunste in die breë in Wellington en omgewing te bevorder.

Dis nie kinderspeletjies nie, en sal goeie beplanning en balans tussen die verskillende kunsvorme verg om te verseker dat die sentrum ’n wesenlike rol binne elke Wellingtonner se lewe speel.

“Ek weet dit klink soos ’n cliché, maar dit moet ’n sentrum ‘vir almal’ word,” wei hy uit oor moontlike skry-wersaande, kunsuitstallings, intieme kabaretvertonings in die teatertjie, gemeenskapsdramas en mark- te waar die kunstenaars wat daar opleiding kry hul handwerk kan verkoop.

Die verkryging van borgskappe om sulke projekte te ondersteun is ’n groot deel van sy werk.

“Hierdie is ’n nie-wins­gewende organisasie, en dis belangrik om aktiwiteite toeganklik vir mense te maak.

“Gelukkig gebeur alles binne die bestek van een huis,” vergelyk Theo dit met sy verbintenis van meer as vier jaar met die Woordfees op Stellenbosch, waar hy onder meer die bemarking en projekbestuur van die hele fees behartig het.

“Dis heerlik om te beplan dat ek maandeliks ’n musiekaand wil hou, of ’n storievertellersaand met potjiekos, of een Saterdag per maand kinderteater, of ’n fotoprojek deur kinders oor die dorp wil ondersteun.”

Theo het sy meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch in Afrikaans-Nederlands voltooi.

“My tesis het in die biblioteek gelê, en toe wonder ek wat nou,” onthou dié oud-Hu- mansdorper.

“Toe stuur ek fanaties 50 aansoeke weg, en eendag bel ’n skoolhoof om te hoor of ek verblyf op Napier het.”

“Hoekom? vra ek toe, en hy sê jy begin Maandag”, vertel Theo terwyl hy die diep stem van die skoolhoof met wie hy sy eerste werksonderhoud gevoer het, namaak.

“Op Napier kom ek toe agter die kinders leer omtrent niks poësie nie, en toe lees ek vir hulle elke dag gedigte en speel vir hulle (die Afrikaanse rap-groep) Brasse van die Kaap se musiek”.

Immers was poësie vir hom ’n passie, want sy meestersgraad het gehandel oor die rol van voyeurisme in die Afrikaanse digkuns.

Hierna het ’n jaar se uitdagende klasgee vir graad vyfs van Laerskool Ysterplaat in Kaapstad gevolg, voordat hy besluit het om terug te trek Stellenbosch toe om te sien watter uitdagings daar nog op sy pad lê.

“Ek glo nogal daaraan dat iets soos ’n fees gereeld nuwe bloed moet kry,” vertel hy oor sy besluit om na ’n suksesvolle loopbaan as Woordfees-organiseerder verlede jaar ’n skuif na NB-Uitgewers te maak as bemarker van fiksie en die skrywers daarvan.

Theo, wat van tyd tot tyd artikels lewer vir tydskrifte soos De Kat, Manwees en Die Taalgenoot, het ook ’n surrealistiese roman uit sy universiteitsjare, Jan en die Boontjierank en 33 Drome op sy kerfstok, maar dié maak hy af as “baie studentikoos”.

Deesdae wy hy die meeste van sy skeppende energie aan die skryf van ’n roman as deel van sy meestersgraadstudies in kreatiewe skryfkuns.

“Toe ek vir die onderhoud hier gekom het, het ek dadelik gesê ek moet iets bieg; ek is besig met ’n roman,” onthou hy dié gewoonlik senutergende gebeurtenis.

“‘Wonderlik’ het die trustees toe gesê, ‘dis juis die tipe kreatiwiteit wat ons wil bevorder en akkommodeer’”, vertel Theo asof hy nog steeds nie sy geluk kan glo nie.

“Vir die eerste keer in my lewe voel dit asof al die aspekte van myself in een werk geakkommodeer word.

“Iemand het eendag gesê as jy jou werk geniet gaan dit nooit werk wees nie.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za