Paw-Paw le Roux is terug
2008-03-13
Malané Bosman
WELLINGTON se wegvlieg-papegaai is terug by die huis, alles te danke aan Paw-Paw le Roux se mensma se hulpkreet in die Paarl Post. ’n Vrou uit ’n naburige straat in Uitsig wat die Paarl Post gelees het, het verlede Donderdag laatmiddag geskakel om te laat weet haar worshond het ’n dors grys papegaai langs hulle swembad opgemerk. Die mensma, Leonie le Roux van Queenstraat, is dadelik soontoe en sowaar, toe sy praat, toe val Paw-Paw le Roux letterlik in haar nek. Die eerste aand terug by die huis wou Paw-Paw le Roux nie alleen slaap nie. Toe vou hy sy kop onder sy vlerk in, op sy ma se bedkussing. Die twee dae en ’n lang nag in die vreemde was vir hom beslis traumaties. Hy sal nou twee keer dink voordat hy weer sy hok oopvroetel en wegvlieg (as sy vlerke dalk weer lank genoeg uitgroei). Paw-Paw is eintlik nog ’n babatjie, maar so twee jaar oud. Hy praat alles onder die son, alles wat hy hoor sy mensma praat. Hy vloek ook so nou en dan, want sy ma gooi soms versigtigheid met taal oorboord wanneer sy groot skrik, of erg kwaad word. Hulle twee kyk saam sepies, sy met haar doppie en hy met sy appelsap. Dan sê hy gewoonlik ‘slaaptyd-slaaptyd’, maar ná die wegvlieg-episode wou hy net ‘soentjie-soen- tjie’ en nie slaap nie. Die koerant was verlede Donderdag skaars op straat, of ’n vrou bel. Sy het Paw- Paw le Roux op ’n lamppaal by die Dierehospitaal gesien. Nog ’n vrou het Paw-Paw le Roux in ’n palmboom in Uitsig sien sit. Maar sy redders was toe die Van Tonders in Disastraat wat daar langs hul swembad gehoor het hoe die African Grey op die grasperk woorde sê wat klink na “Paw-Paw”. Paw-Paw le Roux deel sy mensma se huis met drie honde van gemengde rasse, twee katte (een ’n optelmamma wat vier kleintjies daar kom kry het) en twee visse. Daar is ook ’n hadeda met ’n seer been wat hom van verlede week af op die huis se dak tuisgemaak het. Paw-Paw le Roux ken al die honde op hul name en vertel hulle op Leonie se stemtoon: “Bly stil. Bly stil... Hou jou bek!” En sodra sy aan haar handsak vat, beveel hy die honde: “Bly. Ek kom netnou terug.” Gister sit Paw-Paw toe styf teen sy ma se linkeroor, skewe-koppie en luister na die gesprek. So nou en dan lyk dit sowaar asof hy instemmend knik. Dalk weet hy, een van die baie mense wat geskakel het ná die koerantberig was ’n vrou van De Oude Renbaan. Sy het ’n papegaai geërf wat 70 jaar oud geword het. Hy is nou dood, maar sy sal met liefde na Paw-Paw le Roux kyk indien sy eie mensma eendag sonder hom êrens moet gaan. * An African Grey parrot, lost in Wellington, has been returned to his home after a report in the Paarl Post.
More
News
|