Paarlse vrouens mal oor hul taal
2008-03-19
May Saal
TWEE vrouens van die Paarl, Lydia Rust en Gwendolene Thóle, is nie net staatmakers wat Afrikaans as taal bevorder nie, maar hulle is ook raakvatters wat waardevolle opheffingswerk doen in die gemeenskap. Hulle was onder vyf vrouens wat verlede week deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) vereer is vir die verskil wat hulle in hul gemeenskap in Afrikaans maak. Lydia en Gwendolene is albei betrokke by die vroueklub Dorkas en die SA Unie vir Huisvroueklub. Hulle is baie trots op Afrikaans en het aangesluit by die ATKV om meer betrokke te raak by die bevordering van hul taal. Lydia sê: “Ek sal my taal en godsdiens vir niks opgee nie. Ek moedig selfs my Engelssprekende kleinkinders aan om Afrikaans te verstaan.” Thóle deel die sentiment. “Afrikaans is my eerste taal en ek sal nie wil sien dat dit uitsterf nie en sal enigiets doen om by te dra tot die uitbouing daarvan.” Lydia wat in Upington in die Noord-Kaap gebore en getoë is, sê toe haar sewe kinders grootgeword het en op skool was, het sy ’n leemte gevoel wat sy weet sy moes vul. “Ek het met ’n sopkombuis sommer in my huis begin. Ek het later opleiding in naaldwerk, spyseniering en leierskap by ’n organisasie in die Kaap ontvang. “Ek het dié vaardighede oorgedra aan ander vrouens deur hul by my huis dit aan te leer. En dit is ook hoe ek die organisasie, Dorkas, 23 jaar gelede gestig het,” vertel Lydia. Sy is tans die President van die Suid-Afrikaanse Unie van Huisvroue-klubs. Dorkas is steeds aan die gang om huisvroue vaardighede aan te leer. “Ons sal baie graag kinders en jongmense ook nou betrokke wil kry by Dorkas en hul sodoende met opbouende aktiwiteite besig te hou.” Gwendolene, wat in die Paarl grootgeword het, en elf kinders in die wêreld gebring het, sê dat sy altyd gedroom het om iets te kan doen in haar gemeenskap wat ’n verskil sal maak. “Ek het so sewe jaar gelede by die Dorkas Vroueklub aangesluit. Hier het ek ontdek, dit wat ek soek is hier by die klub. Ek het vaardighede hier aangeleer wat ek weer vir ander vrouens kon aanleer.” Sy vertel opgewonde oor die leierskapkursus wat sy in Kanada gaan doen het. “Dit was vir my ’n eer dat Dorkas my gekies het om die klub in Kanada te verteenwoordig. Daar het ek ook baie geleer. “Toe ek terugkom, het ek by vrouens in Smartietown betrokke geraak en hulle vaardighede aangeleer soos hoe om ekonomies disse te kook en ’n tafel te lê.” Haar groot droom is om ’n ondersteuningsgroep vir benadeelde vroue te stig. “Daar is so baie stukkende vrouens en my hart gaan uit na hulle. Ek sal baie graag ’n verskil in hierdie vrouens se lewens maak,” sê Gwendolene. Albei hierdie veterane sal graag hul lewensverhale te boek stel. “Ek sou baie graag wou hê dat mense wat dit lees uit my foute en suksesse sal leer,” sê Lydia.
More
News
|