Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Groot aanvraag vir Wamakers-studente

Groot aanvraag vir Wamakers-studente
 
2008-03-27


DIE Wamakersvallei Opleidingsentrum is vanjaar tien jaar oud en het reeds 3 000 studente opgelei om bejaardes tuis te versorg.

Volgens die sentrum se bestuurder, suster Irene de Waal, is daar ’n groot aanvraag vir hul- le studente. Elke student wat die kursus voltooi, word uitgeplaas.

Wamakersvallei Opleidingsentrum het in 1998 begin met 23 studente. Toe het hulle twee klaskamers by Hugenote Kollege gebruik en in ruil daarvoor, het die sentrum aangebied om die kollege skoon te maak!

In 2004 het die sentrum deur middel van ’n Lotto-skenking die ou biblioteek agter die NG Moederkerk gekoop en gebruik dit nou as kantore en klaskamers.

Vandag werk hulle studente by ouetehuise, in private huishoudings en hospitale oor die hele Drakensteinvallei.

“Ongeveer 80% van die personeel by Silwerkruin hier in Wellington was studente by Wamakersvallei.

“Verder het ons mense uitgeplaas by Rusoord, Huis Vergenoegd en De Oude Renbaan in die Paarl en daar is ook oud-studen- te in hospitale in Ceres en Bellville,” verduidelik sr De Waal.

Die kursusse is gemik op werk- lose mense uit agtergeblewe gemeenskappe. Tog is dit vir haar belangrik dat die kursusse nie verniet aangebied word nie.

“As iets verniet is, is dit mos goedkoop. Mense moet waarde heg aan wat hulle hier doen en leer.

“Dit is ongelooflik hoe mense werk om die klasgeld bymekaar te maak. Party was motors op ’n Saterdag, ander doen strykwerk.”

Oor die jare het De Waal ook agtergekom dat baie van die studente blootgestel is aan geweld en misdaad en ’n behoefte het aan trauma-berading. In een geval het ’n student gesien hoe haar suster vermoor is.

’n Paar jaar gelede het ’n student se man hulle enigste kind vermoor en die lyk onder ’n bed in hulle huis versteek. Sy het die lyk drie dae later gevind, en het nooit berading gekry nie.

Toe die vrou as student aansluit, was sy nog steeds baie getraumatiseer.

“Dit is vir my dus baie belangrik om die studente se selfbeeld op te bou, en hulle te leer om weer drome te droom. ’n Mens moet kan werk met ’n visie vir die toekoms. Dit gaan hier oor die hele mens.

“Spanwerk is ook vir ons net so belangrik.

“Hier, net voor gradedag was dit wonderlik om te sien hoe die studente mekaar help. Die een koop vir die ander ’n nuwe paar skoene vir die geleentheid, of help om taxi-geld te betaal.”

De Waal glo dat die behoefte aan tuisversorging vir bejaardes in die toekoms al groter sal word, soos die huidige gesondheidstelsel onder al hoe meer finansiële druk geplaas word. Tuisversorging kan ook heelwat minder ontwrigtend vir die bejaarde wees.

Die sentrum bied tans twee kursusse aan: een in die tuisversorging van bejaardes en die ander in kindersorg. Praktiese opleiding by ’n ouetehuis of crèche word ingesluit.

Beide kursusse strek oor twee maande en begin op 21 April (die koste is R550).

In die tuisversorgingkursus kry die studente ’n holistiese opleiding in die versorging van die bejaarde in hulle eie omgewing.

Die student word opgelei in basiese gesondheid, verpleging, arbeids- en fisioterapie, en chroniese siektetoestande.

Studente wat die kindersorg- kursus voltooi het, sal van groot nut wees vir ouers wat tweelinge of drielinge het, en hulp nodig het om die kinders te versorg, verduidelik De Waal.

“Ons studente word ook geleer om eerstehulp toe te pas en hoe om die kind te stimuleer.”

Vir meer inligting, kontak die Wamakersvallei Opleidingsentrum by 021-573-5942.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za