Ma's vir Wellington maak magies vol
2008-03-27
’n HONGER kind wat op ’n dag ’n stuk brood by haar voordeur kom vra het, het Stephanie Henderson geïnspireer om ’n voedingskema, Ma’s-vi-Wellington, te loots. Hierdie groep vrywilliges het in September verlede jaar begin om toebroodjies en koeldrank vir kinders wat in die mindergegoede dele van Vanwyksvlei woon, uit te deel. Henderson is die voorsitter van Ma’s-vi-Wellington en vertel dat hulle elke Dinsdag en Donderdag oor etenstyd die toebroodjies uitdeel. Dit is ook dan wanneer die skoolkinders huis toe loop. “Ons is gelukkig om die Colibri-saal te kan gebruik, maar in Egoli werk ons sommer uit ons motors of van ’n bakkie,” verduidelik sy. “Eers was daar net sowat 23 kinders, nou gee ons kos vir meer as 600 kinders. Dit is nogal ’n groot taak om 1 500 toebroodjies te maak.” Stephanie vertel dat die Andrew Murray Kinderhuis hulle kantoor- en kombuisgeriewe aangebied het om hulle werk te vergemaklik. Ma’s-vi-Wellington betrek ook kerk- en ander diensgroepe om te help om die toebroodjies te maak of te help finansier. Dit kos ongeveer R60 ’n maand om ’n kind te voed. Vrywilligers word gevra om ’n brood se toebroodjies tuis te maak, en dan af te lewer met ’n bottel koeldrank by Ma’s-vi-Wellington. Oorskot-vrugte word gratis van omliggende boere verkry. Henderson sê dat hulle probeer om vir elke kind ’n koeldrank, vrug en toebroodjie te gee - twee toebroodjies per kind as dit moontlik is. In die winter hoop hulle ook om elke kind ten minste een keer in ’n week warm kos soos ’n bord sop te gee. Die nood onder party kinders is veral tydens skoolvakansies groot, omdat hulle dan nie toegang het tot skole se voedingskemas nie. Hierdie kinders verloor dan ’n belangrike bron van voeding. Daar is baie kinders wat deur die dag alleen is terwyl die ouers werk. Dikwels is dit omdat ouers nie weet of daar dagsorg beskikbaar is nie, of dit nie kan bekostig nie. “Dikwels bly hierdie kinders alleen by die huis, of speel sonder toesig in die straat,” sê sy. “Daar is kinders wat werklik swaar kry. “Ons sien kinders wat werklik honger is. Party dae is daar ’n kind wat net ’n drukkie soek. “Vir my gaan dit daaroor dat ons as ’n gemeenskap moet omgee vir ons kinders,” verduidelik Stephanie. Vir meer inligting oor Ma’s-vi-Wellington, skakel 021-873-2144 of stuur ’n epos aan masviwellington@telkomsa.net
More
News
|