Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Diere met liefde en skenkings beskerm

Diere met liefde en skenkings beskerm
 
2008-03-27

Marguerite Lombard

DIE Wellingtonse Dierebeskermingsvereniging het ’n gedaanteverwisselling ondergaan. Groot draadkampe is gebou vir die honde, die ou hokke is opgradeer en ’n groot hok is ingerig vir katte.

Projek Snorbaard - soos die opknappingsprojek gedoop is - is moontlik gemaak deur ruim skenkings van die dorp se besighede en lede van die publiek.

Die finale fase van die projek is onlangs voltooi toe die DBV se opsigter in ’n nuwe huis op die perseel kon intrek.

Die tweeslaapkamerhuis, met ’n woonkamer-kombuis en badkamer, is in Januarie voltooi. Die opsigter het voorheen in ’n houtvertrek op die perseel gewoon.

Vriende van die Wellington se Dierebeskermingsvereniging het Projek Snorbaard geloods om die dorp bewus te maak van die geldelike nood van die DBV.

Skenkings bly ’n belangrike bron van inkomste vir die DBV aangesien die jaarlikse bydrae van die Munisipaliteit slegs een maand se oorhoofse kostes dek.

Christine van Wyk, ’n komiteelid van die Vriende van die Wellington DVB, vertel hoe geskok sy twee jaar gelede was om te sien hoe bouvallig die hokke toe was. Die DBV het eenvoudig nie die fondse gehad om die hokke te onderhou nie.

“Mense gee om, maar weet nie altyd wat hulle kan doen nie.

“In daardie sin het Projek Snorbaard baie goed gewerk, omdat ons dit reggekry het om mense te wys hoe hulle kon help.

“Ons het toe R40 000 ingesamel, en kry nog steeds donasies van komberse, dakpale, draad, klip, plaveisel en sement om met die werk voort te gaan,” vertel sy.

Die munisipaliteit het ook ingespring en oorhoofse ligte geïnstalleer sodat die perseel in die aand beter belig kan word.

Die honde bly nou in groot kampe sodat hulle met mekaar kan speel en rondhardloop.

Die ou, kleiner hokke word nou net gebruik vir getraumatiseerde honde, of honde wat siek is. Hierdie hokke is ook vergroot om die diere meer skadu te gee.

Vandag slaap elke hond in sy eie hout hondehok met ’n warm kombers, en elke hondehok is ook op ’n pallet staan gemaak om dit te isoleer van die koue grond.

Die DBV kry tussen 60 en 100 honde en katte elke maand in, waarvan ’n groot persentasie nuwe eienaars kry.

Natasha Muller, die DBV se opsigter, vertel dat baie van die honde wat na die Dierebeskermingsvereniging gebring word, in ’n redelike goeie toestand is.

“In die meeste gevalle kom die diere van mense wat net nie meer die dier wil versorg nie.

“Ons ken al die stories. Die gewildste is: die hond is nie myne nie, ek het dit opgetel. Dan het die hond ’n naam, en hy reageer daarop!” vertel Natasha.

Daar is ook die hartseerstories van brandmaer, uitgeteerde honde, of honde wat weggegee moet word omdat mense ouetehuis toe trek, of na ’n sekuriteitskompleks, en die hond kan dan nie saamgaan nie.

Dan is daar ook die honde wat in georganiseerde gevegte beseer is, en net op die vullishoop gelos word.

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, skakel die DBV op 021-864-3726.

* Wellington’s SPCA kennels have been given a facelift.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za