Slange is bevange ná brande
2008-04-10
Jules Krige
SEDERT die onlangse veldbrande rondom die Paarl, het baie slange hul toevlug na die dorp geneem om van die vlamme te vlug. Dit beteken dat hulle heel moontlik nader is as wat ons besef. Slange is nog baie aktief omdat hulle hul vetreserwes wil opgaar deur prooi te vang voordat die wintermaande begin en dit kan veral ’n probleem wees vir huisgesinne omdat slange agter hul prooi soos rotte, muise en verkleurmannetjies aanbeweeg. Met die winter kort om die draai, is dit die tyd wanneer slange vir mense die gevaarlikste is. Plekke soos asblikdromme en kosstore is plekke om voor lig te loop. In die winter is slange ook gevaarlik, want hulle hiberneer naby aan plekke waar daar volop prooi is en dit beteken dat hulle gereeld naby aan huise sal oorwinter. In die Wes-Kaap is van die volopste slange kobras, pofadders en boomslange. Die Vonds Slangpark net buite die Paarl het 300 slange van sowat 50 spesies wat ten toon gestel word vir die publiek. Juanita Jordaan van die Vonds Slangpark sê dat slange mense oor die algemeen probeer vermy en dat hulle slegs aggressief is wanneer hulle bedreig word. “Die enigste slang waarvan ek weet wat ’n mens met opset sal aanval, is die swart mamba, maar hulle word nie in die Kaap aangetref nie,” sê Jordaan. Die mamba is ook een van die spesies wat te siene is by die slangpark. Volgens Jordaan is daar verskeie maniere waarop slange uitgeken kan word in die natuur. Die Kaapse kobra maak die meeste van die tyd sy kop bak wanneer hy aggressief is. Hul gif bevat neurotoksines wat dodelik is en orgaanversaking tot gevolg kan hê. Kaapse kobras is meestal agter muise en rotte aan en is verantwoordelik vir die mees- te pikgevalle. ’n Pofadder is ’n stil slang wat moeilik is om te gewaar en sal harde blaasgeluide maak wanneer ’n mens te naby kom. ’n Pofadder sal net aanval wanneer hulle versteur word en hul gif is sitotoksies wat beteken dat dit weefselvretende ensieme afgee. Wanneer dit baie droog en warm is, beweeg slange na koeler, nat areas en dit is ook een van dié redes hoekom slange soms in die warm, droë somermaande naby aan huise en landerye gevind word. Jordaan waarsku dat wanneer ‘n giftige slang jou pik, help dit nie om ’n bohaai op te skop nie en moet die persoon so stil moontlik probeer bly om die hartklop stadiger te maak. Dan moet daar sogenaamde ‘venom kits’ gebruik word om die gif uit die wond te kry en onmiddellik mediese aandag verkry word. Vir verdere inligting oor slange kan Juanita Jordaan gekontak word by jordaanj1@telkomsa.net of by 084- 662-7495.
More
News
|