Geen maagpyn oor water
2008-04-17
Malané Bosman
’n VLAAG maagsiektes onder inwoners van die Vallei het die afgelope weke gerugte die ronde laat doen dat daar iets met die dorp se kraanwater sou skort. Nie so nie. Die Paarlstreek se drinkwater is suiwer. Daar is wel ’n erge maagvirus in die lug, wat mense onwillekeurig beetpak en wat apteke se rakke laat leegloop van middels teen krampe en naarheid. Dokters wat oorval word met pasiënte met “ongelooflike naarheid, braking, maagpyn, diarree, koors en ’n doodse moegheid,” skryf onmiddellik anti-spasmodiese middels, bed-rus en baie vloeistof voor. Die eerste twee dae is die ergste, waarna die pasiënt tot ’n week lank duiselig en sonder eetlus gelaat word. Sop, hawermout en energiedrankies (of water met ’n knypie sout en suiker ingeroer) word aanbeveel. Drakenstein munisipale amptenare neem gereeld watermonsters in die woongebiede, vanuit die damme op Paarlberg, asook uit die Bergrivier. Uit elk van die 30 toetspunte in die Paarl, asook die vier in die berg en die ses uit die Bergrivier, word watermonsters geneem. Die monsters word in ’n laboratorium aan Drommedarislaan, Daljosafat, ontleed, maandeliks vir chemiese ontleding en tweeweekliks vir bakteriële ontleding. So word nie net die gehalte van Drakenstein se drinkwater bepaal nie, maar ook die gehalte van die rivierwater wat deur die Paarl vloei. Die amptenare by die laboratorium kontroleer ook die gesuiwerde water wat van die rioolsuiweringsaanleg wes van Drommedarislaan, in die Bergrivier gelaat word. Hulle wys trots na die sertifikaat wat in 2006 uitgereik is, wat aan Drakenstein die erkenning gee as “beste suiweringsaanleg in Suid-Afrika”. Dieselfde aanleg kan nie weer ingeskryf word nie, anders, meen die amptenare, sal hulle weer wen. Terwyl die Paarl se rioolsuiweringsmasjinerie glad loop, is dit ’n groter uitdaging om die pH-vlak in die Wellington-aanleg konstant te hou en die algemene standaard van die uitvloeisel te handhaaf. Die baie wynkelders in die kleiner volume afvalwater veroorsaak by Wellington hoofbrekens. * Die ontwerp van die beplande drinkwatersuiweringsaanleg op Paarlberg is ver gevorder. Die tenderproses kan teen die middel van 2008 voltooi wees. Daar is intussen by Provinsie en die Departement Waterwese aangeklop vir fondse vir die oprigting van die aanleg. *Paarl’s drinking water is subjected to regular chemical and bacteriological testing. The water has a clean bill of health.
More
News
|