Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Andrew Murray se geboortedag herdenk

Andrew Murray se geboortedag herdenk
 
2008-04-24

Marguerite Lombard

WELLINGTON se NG Moederkerk herdenk elke jaar die bekende leraar Andrew Murray se geboortedatum op die Sondag naaste aan sy verjaarsdag, 9 Mei 1828.

Hierdie jaar sal die kranslegging op Sondag 11 Mei plaasvind ná die erediens.

Ds Bennie van Rensburg is een van die Moederkerk se leraars en vertel dat die gedenkdiens hierdie jaar saam val met die Pinksterfees en ’n nagmaaldiens.

“Daardie Sondag loods ons ook ’n periode van toewyding en gebed waartydens die gemeente een keer ’n week vir sewe weke in selgroepe bymekaar sal kom. Bybelstudies vir hierdie tydperk handel oor die tema Saam is ons Beter.

“Hierdie fokus op geestelike vernuwing isook ’n nalatenskap van Andrew Murray se bediening meer as ’n eeu gelede,” verduidelik hy.

Hy glo dat daar vandag weer ’n behoefte onder mense is om terug te gryp na die leiers van die verlede.

“Kyk net na die gewildheid van die De La Rey- liedjie ’n tyd terug. Ook in die kerk is daar ’n behoefte om weer te kyk na die kern van ons geloof, na die dae waar daar geestelike herlewings was.”

Andrew Murray is een van die groot herlewingsfigure in die NG Kerk. Hy het in 1871 sy bediening in Wellington begin en duisende mense het die Moederkerk volgesit om na sy preke te luister, vertel Bennie van Rensburg.

“As ’n mens kyk na al die skole en inrigtings wat hier in Wellington uit daardie herlewing tot stand gekom het, het Andrew Murray ‘n ongelooflike nalatenskap, veral in die onderwys.“

Daardie jare toe Andrew Murray hom in Wellington gevestig het, het Wellington net drie plaasskole gehad: Groenberg, Blouvlei en Bovlei.

Toe was dit ook die gebruik dat net seuns na­skoolse opleiding ontvang het.

Nadat Andrew Murray in 1872 van Mary Lyon se Mount Holyoke Meisieskool in Massachusetts VSA gelees het, het die idee van ’n Hugenote Seminarie ontstaan.

Die skool vir meisies is in 1874 op Wellington geopen, en dit het later die model geword vir talle meisieskole, ook vir meisieskole soos La Rochelle in die Paarl.

Wellington se Onderwyskollege, Hugenote Kollege en Hugenote Hoërskool is ook deel van Andrew Murray se nala- tenskap.

“Dan praat ’n mens nie eens van al die boeke wat hy geskryf het nie,” vertel Bennie van Rensburg.

Sy werk - ongeveer 250 geskrifte - is vandag nog wêreldwyd bekend, veral in Amerika. Ons is juis nou besig om ’n klein Andrew Murray biblioteek in te rig by die kerk. Die biblioteek sal mettertyd al sy werk verteenwoordig.”

Murray het twee ere-doktorsgrade ontvang, een van die Universiteit van Aberdeen in 1898, en ’n tweede van die Universiteit van Kaapstad in 1907.

Hy is in 1917 op Wellington oorlede en langs die kerk se hoofingang begrawe. Hy is ook verewig in die standbeeld voor die kerk.

Wellington se Moederkerk is in 1840 gestig met ds AF du Toit as die eerste leraar. Vandag het die kerk ongeveer 3 000 lidmate, en ’n bediening wat skoliere, kollegestudente, die Andrew Murray Kinderhuis en die dorp se ouetehuise en omliggende plase insluit.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za