Afrikaans kry grondwetlike tande met belangeraad
2008-04-24
’n BELANGRIKE oomblik in die geskiedenis van Afrikaans breek aan wanneer verteenwoordigers van sowat 50 Afrikaansgerigte organisasies op Vrydag en Saterdag 23 en 24 Mei op Wellington saamtrek om oor te gaan tot die stigting van ’n Nasionale Afrikaanse Taalbelangeraad (NATB). Met die stigting van die NATB word beoog om grondwetlike tande te gee aan die belange van Afrikaans op alle vlakke in Suid-Afrika. Die Grondwet maak voorsiening vir die stigting van so ’n belangeraad en registrasie by die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe. Die NATB is ’n inisiatief van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA), ’n werkgroep onder voorsitterskap van prof Wannie Carstens van Potchefstroom met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns as sekretariaat. Die voorgestelde Statuut van die NATB lui dat gestreef word na die handhawing en voortgesette bevordering van Afrikaans as ’n hoëfunksietaal en ’n middel tot bemagtiging vir die breë gemeenskap. Die veeltaligheid van Suid-Afrika word daarby in ag geneem. Die NATB gaan nie ’n vervangende funksie vir ander Afrikaansgerigte organisasies vervul nie, maar van sy grondwetlike status gebruik maak en daadwerklik en koördinerend optree waar die belange van Afrikaans in die gedrang is. Die NATB verbind hom tot inklusiwiteit ten opsigte van alle dele van die Afrikaanse taalgemeenskap, insluitend die gebruikers van Afrikaans uit ander taalgemeenskappe en wil ook uitreik na die sprekers van Afrikaans in ander dele van die wêreld, veral waar dit gaan om groot Afrikaanse gemeenskappe byvoorbeeld in Australië. Die stigtingsbyeenkoms vind plaas in die Goodnowsaal in Kollegestraat, Wellington. Een die vooraanstaande sprekers wie vir die geleentheid genooi is , is dr Theuns Eloff, rektor van die Noordwes-Universiteit. Belangstellendes wat nie geregistreerde organisasies verteenwoordig nie, is welkom om die vergadering by te woon, maar moet vooraf aanmeld by die kantoor van die Vriende van Afrikaans wie by 021-808-3744/3745 gekontak kan word. Die verrigtinge begin die Vrydagmiddag om 15:00 in die Goodnowsaal. Die registrasie begin 14:00.
More
News
|