Tiener droom oor 'n nuwe rolstoel
2008-04-24
Marguerite Lombard
MORNÉ VERMEULEN is vyftien jaar oud, woon op ’n plaas buite Wellington, en gaan elke dag skool toe net soos duisende ander seuns. Die enigste verskil is dat Morné sonder bene gebore is. Eendag gaan hy sy eie vervoerbesigheid besit, maar vir eers is sy grootste begeerte om ’n elektriese rolstoel te besit. Die rolstoel wat hy op die oomblik gebruik, kry hy van ’n staatshospitaal, maar dit is ongelukkig nie geskik vir plaaspaaie nie. Tuis beweeg hy eerder op sy hande rond. Hy verduidelik dat hy al gewoond is om so oor die weg te kom. “Nee wat,” sê hy, “my hande en skouers raak nie sommer moeg nie. Dit is net my rug wat soms seer raak. Dit is maar net so, dan moet ek maar pille drink vir die pyn.” Morné doen ook goed op skool. Sy probleem is net om daar te kom. Die naaste busstop is maar ’n paar honderd meter van sy ouerhuis, maar in ’n rolstoel is dit ’n uitgerekte nagmerrie van los gruis, sand en rivierklip. Bult af in die oggend, bult op in die middag. In die oggend, voor sy ma Anna werk toe gaan, stoot sy vir hom tot by die busstop. In die middag kom haal een van die plaaskinders vir hom. Daar is dae wat niemand hom kan kom haal nie. Dan neem dit vir hom meer as ’n uur om tot by die huis te kom. “Ja, dit is maar ’n gesukkel met die rolstoel. Party middae raak ek sommer kwaad vir die ding,” vertel hy. “Dan wil ek die rolstoel sommer daar los.” As dit reën, het sy skool vir hom toestemming gegee om tuis te bly. “Anders is ek sopnat as ek by die skool aankom. Dan is alles nat: my klere, die rolstoel, my boeke.” Hy glo ’n elektriese rolstoel sal hom meer onafhanklik maak. Tog is Morné nie iemand wat hom laat afskrik deur die feit dat so ’n rolstoel duisende rande sal kos nie. Verlede jaar het hy self geld begin insamel vir ’n nuwe rolstoel. Die geld trek nou vir eers rente in ’n bankrekening terwyl hy sy aandag op sy skoolwerk vestig. Morné is die jongste van vyf kinders en het in Ceres op ’n plaas grootgeword. Net meer as ’n jaar gelede is die plaas verkoop en Morné het saam met sy ouers Wellington toe getrek. Hulle woon nou op ‘n plaas in die Bovlei. Indien daar iemand is wat Morné kan help om ’n nuwe rolstoel te kry, of kan help met ’n geleentheid na of van Weltevrede Hoërskool, kan hulle hom by 082-073-2094 skakel.
More
News
|