Skoenmaker trap diep spore
2008-04-24
Marguerite Clift
TENSY jy spesifiek na ’n skoenwinkel soek, sal jy maklik Henry Slamet se werkswinkel aan die onderpunt van Fonteinstraat, Wellington, misloop. Staan jy in die winkel, kom jy gou agter dat die winkel die hartklop van die straat is. “Oom Henry” en “Dag Hennie” groet mense in die verbygaan. Kort-kort is iemand weer binne om ’n paar skoene op te tel of in te handig. Henry Slamet het een van die oudste besighede in die straat, en werk al meer as vyftig jaar hier agter die swaar hout-toonbank. Van die ouer mense ken hom van die dae toe Fonteinstraat nog ’n fontein gehad het - onder waar die kollege se sekuriteitshek vandag is. En hy kén mense en hulle skoene. “Sien, as iemand ’n paar skoene inbring om te laat regmaak, kan jy maar weet hy is baie lief is vir daardie skoene. Mense laat nie sommer ’n skoen regmaak nie.” Henry Slamet vertel van ’n gesiene boer wat op ’n dag ’n paar leerskoene ingebring het vir herstelwerk. “Ek kon sien die skoen is al oud, en baie gedra. Toe sê hy vir my, ‘Hennie, jy moet niks sê oor hoe hierdie paar skoene lyk nie, dis my voete daai.’ “Ek kon sien dit is ’n paar skoene wat waarde het vir sy voete.” Heel dag werk Henry Slamet by sy drie-voet ysterlees. ’n Lees, verduidelik hy, kom in een standaardgrootte voor. Die drie voete is so ontwerp dat die lees altyd goed gebalanseer is en standvastig kan staan. Hierdie voet, wys hy, is om ’n hak op reg te maak. Hierdie een glip in ’n dameskoen, en hierdie een in ’n groot manskoen. “Eintlik is die lees van piouter gemaak, en sommer baie duur om te vervang. As jy dit per ongeluk laat val, breek dit maklik. Dis hoekom die ou mense gesê het: ‘Skoenmaker, hou jou by jou lees!’” Hy vertel jare gelede het CP van der Merwe, toe rektor van die kollege, ook ingestap en vir hom gevra, ‘Maar Hennie, hoe weet jy wie se skoen dit is?’ Ek sê toe vir hom, ‘mnr Van der Merwe, ek hoef net na mense se gesigte te kyk, dan weet ek watter skoen hulle s’n is.’” Henry Slamet werk al sedert 1952 hier in die winkel. Destyds het hy as twaafjarige seun begin werk vir Nicky Goosen. Hy vertel dat hy die dag goed kan onthou. “Meneer Goosen het in die deur van die winkel gestaan, toe stop ek en vra ‘Oubaas, ek soek werk’. “Eers wou mnr Goosen niks weet nie. ‘Hennie,’ het hy gesê, ‘jy moet in die skool wees.’ “Ek het net aangehou dat ek skoene wil regmaak, want ek kom van ’n familie waarin daar baie skoenmakers is. “So het ek hier begin as ’n jong seun, en grootgeword in die plek. ”Later - ek was al ’n jong man - het ek vir mnr Goosen gesê ek wil fabriek toe gaan. Toe sê hy ‘Hennie, jy kan gaan, maar as jy leer wat ek vir jou kan leer, gaan jy eendag vir jouself werk.’ “Vandag is ek nie spyt dat ek na hom geluister het nie.” Toe mnr Goosen in 1976 oorlede is, het Hennie die werkswinkel oorgekoop. “Dit was ’n moeilike tyd want ons Kleurlinge mag toe nie eintlik hier in die middel van die dorp besigheid doen nie. Ek het net R18,50 in my sak gehad toe, en ’n familie om te onderhou. “Dit het baie praat gekos, en later het mnr Viljoen van die Munisipaliteit vir my kom sien en my laat weet ek kan bly.” Hy is trots daarop dat hy en sy vrou Mona uit die klein herstelwinkel kon sorg dat hulle kinders ’n goeie opvoeding gekry het. Vandag woon twee van sy kinders in Suid Korea, een in Gauteng en ’n dogter op Wellington.
More
News
|