Erfenisbewakers kry nuwe naam
2005-06-30
WEENS die vergroting van sy belangegebied en uitbreidings van wetlike voorskrifte het die bewakers van Wellington se erfenis en kultuurkarakter pas hul naam verander.
Vanaf Mei vanjaar hou die Wellington Erfenis- en Omgewingskomitee (voorheen bekend as die plaaslike Estetiese Komitee) sy duim op die geskiedkundige karakter van die dorp en buitewyke.
Voorsitter Johan von Wielligh glo die naam val beter op die oor, en is meer verstaanbaar vir Jan Publiek.
Die naamsverandering hou verband met die uitbreiding van die gebied op die komitee se agenda. Hulle sal nou nie meer net kyk na die historiese dorpskern nie, maar ook na ander gebiede en plase soos Weltevrede, Agter-Paarl, Hermon, Groenberg, Paardeberg, Saron en Bovlei.
Die uitbreiding van hul invloedsfeer gaan gepaard met die verpligtinge rondom bewaring wat aan die Drakenstein Munisipaliteit opgelê is onder die nuwe Wet op Erfenis-hulpbronbewaring
Die komitee kom reeds ‘n lang pad. Op inisiatief van dr Manie Rust is die Wellingtonse Vereniging vir Kultuur- en Natuurbewaring in 1984 tot stand gebring.
Onder Rust se leiding is daar suksesvol met die destydse stadsraad onderhandel vir die spesifieke afbakening en proklamering van ‘n sensitiewe bewaringsgebied, wat feitlik die hele “ou dorp” ingesluit het.
So het Wellington die eerste dorp geword wie se hele historiese kerngebied sodanig verklaar en beskerm is.
Die Estetiese Komitee het hieruit voortgevloei, en is in 1986 gestig om te kyk na die bewaring van geboue, asook die afkap van bome, sloping van geboue, herbeplanning van straattuine, grensmure en onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap.
Die komitee, onder voorsitterskap van Johan von Wielligh, bestaan uit vrywilligers wat bewaring op die hart dra. Drie argitekte (Japie Kemp, Tom Robertson en Lydia Uys) dien daarop.
Die sekretaris van die komitee is Chantelle de Kock, wat onlangs as Erfenishulpbronnebeampte deur die Drakenstein Munisipaliteit aangestel is om spesifiek aandag te gee aan erfenisbewaring in die Vallei.
Ook op die komitee is Ansie van Vuu- ren, kurator van die Wel- lington Museum, en raadslid Anna Langeveldt.
Die ander bestuursle-de (Trevor Cleevely, Johan Conradie, Tom Abrahams, Tony Adams, Charl Tomlinson, Devi Lategan, Pietie Mouton, Eugenie Wiggins, Charlotte Cupido en Lenise Gerber) verskaf ‘n kombinasie van sakevernuf en belangstelling in bewaring aan die komitee.
Een van die kwessies wat die komitee grys hare gee, is die toekenning van name vir dorpsontwikkelings en strate wat nie bydra tot die historiese karakter van die dorp nie. Ook die toenemende oprigting van heinings en mure om eiendom te beskerm, veroorsaak probleme.
“Hoekom, as jou huis een van jou grootste beleggings is, wil jy ‘n onvanpaste heining rondom gaan opsit?” vra Von Wielligh.
Hy glo daar is genoegsame voorbeelde waar eienaars van historiese huise met die no-dige sensitiwiteit hul eiendom beveilig het, sonder om kitsmure of staalpale te gebruik.
Volgens wet mag daar geen veranderinge aan huise ouer as 60 jaar gemaak word sonder goedkeuring van die Erfenis en Omgewingskomitee en die plaaslike owerheid nie.
Dit geld ook vir alle eiendomme wat in die verklaarde bewaringsgebied geleë is, maar nie noodwendig ouer as ses dekades is nie.
Ander eiendomme in die res van Wellington is onderhewig aan die gewone munisipale regulasies en munisipale goedkeuring wanneer bouplanne en veranderings ter sprake kom.
Om baie moeite en geld te spaar, beveel Von Wielligh aan dat huiseienaars wat aanbouings of veranderinge aan hul eiendom wil maak, eers bietjie huiswerk doen.
Hy stel informele gesprekke met die betrokke amptenare van onder meer die Boubeheer-seksie voor oor die werkbaarheid en toelaatbaarheid van die voorgestelde veranderinge, nog voordat planne opgetrek of daar selfs met bouwerk weggespring word.
Die komitee beoog ‘n reeks inligtingspamflette wat riglyne sal verskaf oor onderwerpe soos omheinings, prosedures vir aanbouings en veranderinge aan historiese eiendomme, die restourasie van Kaaps-Hollandse en Victoriaanse huise, die keuse van diefwering, uithangborde en grensmure.
Ook word ‘n inligtingstuk gemik op ontwikkelaars beoog, met aanbevole argitekstyle wat inpas by die Wellingtonse karakter.
* The Wellington Aesthetics Committee has been renamed Heritage and Environment Committee.
More
News
|