Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sentrum gaan uitbrei

Sentrum gaan uitbrei
 
2005-06-30

Engela Duvenage

‘n SKENKING uit die Nasionale Loteryfonds gaan help om nog ‘n droom van Wellingtonse inwoners waar te maak - die restourasie van Grevilleas, die tuiste van die Breytenbach Sentrum in die middedorp, as ‘n volwaardige meerdoelige kultuursentrum.

Danksy ‘n Lotto-skenking van oor die R900 000 sal bouwerk na alle waarskynlikheid teen begin 2006 in Burgerstraat kan begin.

Voorlopige planne is by die onlangse trusteeraadsvergadering deur argitek Johan Malherbe voorgelê vir oorweging.

Die sentrum sal onder meer twee groot lokale bevat vir lesings en praktiese klasse. Een van die lokale sal ook ingerig kan word om op aanvraag as ‘n galery of as ‘n klein teater vir opvoerings te dien.

‘n Donkerkamer en spesifieke werkkamers as ateljees vir kunstenaars sal ook ingerig word.

Sedert die Sentrum twee jaar gelede in gebruik geneem is, het dit die tuiste van talle kunstenaars en ‘n boekwinkel geword.

Handvaardigheidsklasse asook taal- en musiekonderrig is ook reeds aangebied.

Die Wamakersvallei Opleidingsentrum is tot Junie hier gehuisves, maar het nou verskuif na Breedtstraat.

Die gebou self is egter in ‘n baie vervalle toestand, wat nie ideaal is om ‘n kreatiewe omgewing te stimuleer nie.

Volgens trusteelid Eugenie Wiggins het hulle aanvanklik vir R1,5 miljoen gevra om al hul drome te laat bewaarheid, maar hulle is dankbaar vir die Lotto-skenking.

Dit laat hulle toe om na ‘n uitgerekte proses van sowat nege jaar die Grevilleas-gebou te herstel na sy voormalige glorie sodat dit vir die dorp en gemeenskap behoue kan bly.

Die Victoriaanse gebou, deel van die eerste hotel op Wellington wat ook jare lank ‘n losieshuis was en as spankamers vir die Voortrekkerkommando gedien het, was ook die tuiste van die bekende Breytenbach-gesin.

Dit is hier waar digter Breyten, fotograaf Cloete en hul broer Sebastiaan grootgeword het saam met hul suster en ouers.

Die Breytenbachs, wat hier ook ‘n losieshuis bedryf het, het dit aan die plaaslike munisipaliteit verkoop, wat dit onder meer as ‘n daghospitaal bedryf het.

‘n Aksiekomitee is in 1998 op die been gebring om Grevilleas te herstel en in ‘n multidimensionele kultuursentrum te omskep. ‘n Trusteeraad het later gevolg.

Die gebou is na openbare vergaderings en uitgerekte onderhandelinge met die plaaslike owerheid in 2000 oorgedra aan die Breytenbach Sentrum Projek Trusteeraad vir verdere restourasie en uitbreiding.

Die projek geniet die ondersteuning van die Breytenbach-gesin. Breyten, seker die kleurrykste lid van die familie, is reeds in 1998 genader oor sy moontlike steun daarvan, wat die moontlikheid van skakeling met internasionale kunstenaars inhou.

Wiggins is egter gou om daarop te wys dat die projek nie ‘n “museum ter ere van Breyten” is nie, maar eerder die erkenning van ‘n besonderse talentvolle familie.

“Breyten voel ook so,” vertel sy.

Sy broer, Cloete Breytenbach, dien ook as trusteelid.

Die idee is dat die sentrum ‘n plaaslike tuiste sal wees vir kulturele en skeppende aktiwiteite, wat kan dien as verryking van die dorp en streek se kulturele lewe.

“Dit moet `n lewendige bymekaarkomplek van die kunste wees,” glo Wiggins.

Volgens ‘n inligtingsdokument oor die Sentrum wil die Trustees ‘n “sentrum daarstel wat aanvullend kan wees vir opleiding in, en omgang met die kunste, literatuur en kommunikasie.”

Temas soos drama, musiek, kuns en lewensvaardighede gaan aangespreek word. Die sentrum sal as bymekaarkomplek gebruik kan word vir werkswinkels, slypskole, uitstallings en navorsingsgeleenthede.

“Die kundige restourasie van Grevilleas is van deurslaggewende belang vir die suksesvolle aanbieding van die programme en projekte,” benadruk die dokument.

* The Breytenbach Centre is to be renovated with funds from the national lottery.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za