Elke dag moet Moedersdag wees
2008-05-08
May Saal
“ELKE dag moet Moedersdag wees en ek is baie gelukkig om as sulks behandel te word,” sê ’n trotse ma van drie kinders, Johene van Wyk. Volgens Johene, wie onlangs ook haar eie besigheid, Cape Winelands Events, begin het, moet ’n vrou dankbaar wees om ’n ma te kan wees. “Dit is ’n seën van bo om ’n ma te wees. Veral as dit goed gaan met my kinders, gaan dit goed met my,” is Johene van mening. Sy en haar drie kinders, Marlese van Wyk, Frederich van Wyk en Zandre van Wyk skerts voort en vertel hoe belangrik dit vir ’n familie is om tyd te maak vir mekaar ten spyte van die besige lewe daar buite. “Ons is ’n hegte gesin en doen baie dinge saam. My kinders kan tot die laaste ding met my bespreek. “Kommunikasie tussen my en my kinders is absoluut van kardinale belang. Ek hou altyd die kommunikasiekanale oop,” skerts Johene voort. Haar prokureursdogter, Marlese, sê sy heg baie waarde aan haar ma se moederskap. “Sy is die mees ambisieuse vrou wat ek ken. Sy is ’n regte “go-getter” en sal enigiets aanpak ongeag wat mense sê en ’n sukses daarvan maak. “En net soos sy ’n sukses maak van besigheidsvrou wees, so maak sy ’n sukses van ma wees,” sê Marlese. Haar seun, Frederich, ’n logistikus, sê met sy ma se nuwe werk besef hy meer en meer haar waarde. “Dit gaan nie net oor jou broodjie wat nie meer ingesit word nie. Dit gaan oor baie meer. Sy is ’n besige sakevrou, maar tog steeds die gom wat die familie bymekaar hou,” is Frederich van mening. Haar jongste studentedogter, Zandre, sê met trots dat haar ma baie klein van postuur is, maar tog versit sy berge. “Sy is ’n klein vrou, maar sy pak groot dinge aan en maak altyd ’n sukses daarvan. So maak sy ook ’n sukses van ma wees,” sê Zandre. Johene se hartsbegeerte is om eendag ’n sentrum te open waar sy kinders na skool kan versorg en voed. “Daar is so ’n groot behoefte daarvoor in ons gemeenskap en dit sal my volgende stap wees en dan wil ek werklose vroue betrek by hierdie projek,” sê sy. Johene het ook ’n agtergrond van meer as twintig jaar in die onderwys. Met haar ambiseuse houding teenoor die lewe, het sy onlangs besluit om die besigheidswêreld aan te pak en haar eie besigheid te begin. Sy ontwerp ook deeltyds klere en sal binnekort haar nuwe klere reeks loods. According to bussinesswoman, Johene van Wyk, every day should be Mother’s Day.
More
News
|