Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sy tyd was nog nie daar nie

Sy tyd was nog nie daar nie
 
2008-05-08

Malané Bosman

HY het in die wagkamer gesit, maar dit was nog nie sy tyd nie.

So meen Johan Nel (70) van Wellington nadat hy onverklaarbaar in ’n koma verval het, vermoedelik ná ‘n spinnekopbyt by sy woning buite Wellington.

Johan het nie eens gevoel iets byt hom nie. Maar die Maandagnag het hy net skielik vreeslik benoud gevoel in die bed.

Toe hy agterkom hy kan asemhaal wanneer hy regop sit, het hy hom in die kantoor tuisgemaak. Die volgende dag het hy ’n dokter besoek. Die diagnose was dadelik dat iets hom moes gebyt het, maar daar was geen sigbare bytplek nie.

Nadat bloed getrek is om te toets vir bosluiskoors, is Johan met ‘n voorskrif vir ’n algemene antibiotika huis toe.

Die volgende dag het ’n groot waterblaas op sy maag uitgeslaan – iets wat lyk soos ’n brandplek.

Terug by die arts is hy aangesê om die antibiotika te staak, en het hy ’n nuwe anti-toksiese middel ontvang.

“Ek was nog nooit in my lewe allergies nie, maar iets was ernstig verkeerd,” onthou Johan.

Hy kon nie meer bestuur nie en was gedisoriënteerd en van balans af. Hy het al na regs geneig, en selfs in meubels vasgeloop.

“Van die Donderdagnag weet ek niks. Ek was so benoud, en later het my huismense vertel hoe ek rondgestrompel het. Ek weet nie eens dat ek my tande geborsel het of badkamer toe gegaan het nie.”

Die Vrydag is Johan per ambulans na die Paarl hospitaal, maar daarvan weet hy ook niks.

“Ek was nie hier nie,” sê hy en wys na sy grys kop.

“Ek was soos ’n ou wat te veel papsakke ingehad het.”

Sy vrou, Sannie, vertel dat sy die ambulans ontbied het omdat hulle bang was dat Johan hom ernstig sou beseer.

“Hy het bly rondslinger en omslaan en sy kop bokant die oog oopgestamp. Hy het aanmekaar gevra waar hy is en wie hy is.”

Saterdagoggend in die noodeenheid is Johan aan suurstof en ’n drip gekoppel. Bloed is weereens getrek om te probeer bepaal of hy deur ’n giftige insek of bosluis gebyt is, voordat hy vir observasie opgeneem is.

Die Sondagoggend toe Sannie hom in ’n algemene saal besoek het, het hy beter gelyk. Sy vrou het maar die komiese gesien toe hy haar Sarie Marais noem, want die lied eindig immers op “ek hoop om jou weer te sien”, spot sy.

Daardie aand om 20:30 het Johan wakker geword.

“Ek het besef ek is iewers waar ek nie wou wees nie. Ek het nie ’n idee gehad waar ek is nie. My arms was vasgemaak. Ek wurm myself toe los en stap die gang af om my vrou te bel.”

By die publieke telefoon het hy eers besef hy het nie ’n sent op hom nie. Terug met die gang langs, het hy by ander pasiënte geld geleen. Toe sy vrou die oproep ontvang, het sy gedink hy is ontslaan, en hom gaan haal.

“Toe was ek letterlik terug in die lewe, maar dit was eers tien dae ná die eerste benoude nag dat ek gevoel het ek het opgestaan uit die dode.

Hulle spot nou dat ek in die wagkamer gesit het, maar dat dit nog nie my tyd was nie,” glimlag Johan.

Geen teken van enige ongerymdheid kon met X-trale gevind word in sy hart, longe en niere nie. ’n Te lae witbloedsel-telling dui wel op ’n infeksie, sê hy.

“Daar moes nog ’n brein skandering gedoen word, maar toe ek dit hoor, toe is ek sommer perdfris.

“Die dokter sê nie hy of die pille het my gesond gemaak nie. Ons weet sowaar nie wat met my gebeur het nie.

“Ek weet net dit was ’n skrikwekkende tyd en ek is soveel dank verskuldig aan die baie mense wat my en ons gesin so wonderlik ondersteun het.”

A Wellington survived after he went into a coma, presumably after he was bitten by a tick or a spider.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za