Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hendrik hou hand stewig op veld

Hendrik hou hand stewig op veld
 
2005-06-30

Engela Duvenage

WELLINGTONNER Hendrik Lakey se “maatskappymotor” brul heelwat harder as die meeste ander mense s’n.

Maar wanneer hy dié geel swaarmeneer uittrek uit die opslaanmotorhuis agter die Wellington krieketklubhuis is hy so trots daarop asof dit ‘n grootmeneer BMW is.

“Die eerstespan-manne spot dat die grasroller die 'company car' is,” glimlag Hendrik, wat pas aangewys is by die Boland Krieketunie se prysuitdeling as die krieketprovinsie se beste speelveldbeampte vir die 2004/2005-seisoen.

Op die koop toe was die toekenning op 8 Junie sommer ‘n vroeë 41-ste verjaarsdagpresent vir hierdie Junie-baba, wat raai dat hy ‘n bouler sou wou wees as hy homself op krieket sou toelê.

Hy is al die afgelope vyf jaar gesekondeer deur die Drakenstein Munisipaliteit om om te sien na die speelvelde van die Three Ships Wellington Krieketklub, wat ook in die winter as hokkieveld dien.
Voorheen het hy ook by die Bergrivier Krieketklub diens gedoen.

Die manne van die Wellington Krieketklub is nie bietjie trots op Hendrik se toekenning nie. Sover onthou kan word, is dit van die eerste kere wat hierdie eer die klub te beurt val, en welverdiend ook, glo hulle.

By die klub se jaarlikse prysuitdeling het hy ook vanjaar weer ‘n toekenning ontvang uit dank vir sy onbaatsugtige diens, wat hom Saterdagoggende vroeg by die klubhuis bring, en waar hy altyd ‘n helpende hand is by spesiale geleenthede soos die klub se Ses-aan-’n-kant kompetisie.

Die geel grasroller is een van sy belangrikste hulpmiddels waarmee hy sorg dat die kolfblad elke keer eksieperfeksie is.

Hy het baie van kolfbladinstandhouding geleer by ‘n vorige komiteelid, Leon Labuschagne, en weet alles wat nodig is van krake toestop met bully en hoe om die kolfblad net reg voor te berei vir ‘n spannende wedstryd.

Verlede seisoen het die roller, wat volgens Hendrik “ouer is as ek”, ‘n grootskaalse opgradering ondergaan, toe die enjin van ‘n Nissan-bakkie daarin ingebou is.

Weg is die dae nou dat Hendrik dit met ‘n slinger, uit die kraal van motors van vervloeë dae, aan die brand moet kry - nou gaan sake heelwat makliker net met die draai van ‘n sleutel.

“Veral as dit soggens koud was, het dit bloedsweet gekos om hom aan die gang te kry,” onthou Hendrik.

Teen Augustus sal hy weer hard aan die werk spring om die veld te begin voorberei vir die krieketseisoen, wanneer die eerstespan weer in Boland se Premierliga sal meeding. Dan spandeer Hendrik tot vier ure per dag om die baanblad geduldig kliphard te rol.

* A Wellington man is Boland Cricket’s groundsman of the year.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za