Trou is nie perdekoop
2008-05-15
Lise Beyers
SKOOLWERK het verlede Donderdag vir ’n wyle die agtersitplek ingeneem by Laerskool La Rochelle, en in ruil hiervoor het die trou-klokke gelui. ’n Paar weke gelede het Desmond Pietersen (48), algemene werker op die skoolgronde, aangekondig dat hy op trou staan met sy vriendin van baie jare, Maggie Appollis. En voordat Pietersen sy oë kon uitveë, is daar met groot opgewondenheid begin organiseer aan die huweliksbevestiging. Pietersen, ’n man van min woorde, het die afgelope 15 jaar diep in die hart van die skool ingekruip, en so het die hele skool besluit om soos een mens saam te staan om hierdie dag ’n onvergeetlike ervaring vir die bruidspaar te maak. Die troue is haarfyn beplan, van beide Pietersen en Appollis se trou-uit- rustings, die blomme, die seremonie, tot die samestelling van ’n huwelikskontrak om Pietersen se bates te beskerm. “Almal het ietsie gedoen,” vertel Joretha van der Walt. “Die skoliere was so opgewonde oor Desmond se troue, en hulle het gehelp met die versiering van die saal en die voertuie. “Almal het bordjies eetgoed saamgebring vir ’n spog-onthaal.” En so het die groot dag uiteindelik aangebreek. Dit was byna onmoontlik vir onderwysers om hul leerders in toom te hou, so opgewonde was almal oor die troue. Onderwysers is vroegoggend reeds na Maggie se huis om te help met haar grimering en hare. Sy is toe na die Departement van Binnelandse Sake geneem in ’n blink BMW, waar haar blinkoog liefling senuweeagtig op haar gewag het. Na ’n pragtige seremonie, is meneer en mevrou Pietersen saam in die bruidsmotor na die skool geneem. Intussen het pandemonium byna hier losgebars. ’n Elektriese atmosfeer het geheers, soos almal op hul tone getrippel het in afwagting op die bruidspaar. Kinders en leerkragte het ’n erewag gevorm, vanaf die parkeerterrein tot by die skoolsaal. En toe die groot oomblik aangebreek het, en die Pietersen-eg- paar hul opwagting maak, is hulle soos ware supersterre verwelkom. Konfetti is gegooi en die gejuig was oorverdowend toe die bruidspaar tussen die erewag loop. Hierna is die hele skool na die onthaal genooi waar ’n pragtige troukoek en heerlike eetgoed op die skugter paartjie gewag het. Deur die hele proses was Pietersen spraakloos met slegs ’n glimlag op sy gesig. Ná die tyd het hy net gesê, “Dit was die beste dag van my lewe.” * Teachers and pupils of La Rochelle Primary School recently held a lavish wedding for their groundsman.
More
News
|