Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ponton van ouds pronk in die Paarl

Ponton van ouds pronk in die Paarl
 
2008-05-22

Lise Beyers

’n MAN bly maar ’n seun,” sê polisie-in- spekteur Manie Human met ’n vonkel in sy oog.

En Human sal weet, want hy is geen uitsondering op dié stelling nie.

As kind het Manie met speelgoed-karre- tjies gespeel, en vandag staan vier klassieke Mercedes Benz modelle in sy agterplaas.

“My oom het ’n Ponton-reeks Mercedes gehad, en toe ek as knaap eendag daarin gery het, het ek heeltemal verlief geraak op dié voertuig.

“Dit was so gemaklik en ek het soos ’n koning gevoel terwyl ek langs my oom sit en deur die strate ry.

En boonop het my pa altyd gesê dat jy nie kan verkeerd gaan met ’n Mercedes nie.”

So het hierdie droom vir baie jare in Human se agterkop bly sit, totdat hy en sy vrou tien jaar gelede by Voortrekkerweg afgery het.

“Ons het toevallig dié roete gekies om Kaapstad toe te ry, en skielik sien ek my Ponton.

“Ek het dadelik stilgehou by die tweedehandse motorhandelaar en vir die verkoopsman gesê dat ek die motor wil hê.

“Ek het nie eens die geld daarvoor gehad nie, maar ek het geweet die motor is myne.

“Die handelaar het belowe dat hy die motor vir ’n paar dae vir my sal hou en toe ek by die huis kom, het ek dadelik sommetjies gemaak.

“Uiteindelik het ek met die bedrag voorendag gekom, en my baba gaan haal.”

Hierdie 1959 Ponton was in ’n goeie toestand, maar het wel werk nodig gehad aan sy ratkas. Hier en daar was ook effens werk nodig aan die binneruim en bakwerk.

Weens Human se entoesiasme en belangstelling in dié voertuig, het hy by die Mercedes-klub van Suid-Afrika aangesluit.

Hier het hy in aanraking gekom met ’n reuse netwerk van Mercedes geesdriftiges, soos hyself, en sy belangstelling is net verder geprikkel.

“My volgende stap was om ’n Mercedes bakkie aan te skaf wat ook vanuit die vyftiger jare is. Maar dié keer het die voertuig heelwat tender loving care nodig gehad.

“Hier kom die kennis, raad en ondersteuningsnetwerk van ’n klub soos Mercedes SA baie handig te pas.

“As lede help almal mekaar uit om ons voertuie nie net in stand te hou nie, maar om hulle ook tot hulle vorige glorie te herbou.

“Ons ruil parte en onderdele uit van motors wat onherstelbaar is.

“So het ek vir my ook ’n ou Mercedes wrak gekoop wat ek nou gebruik vir parte om my bakkie te restoureer. Ek help ook ander lede wat dalk dele van die wrak nodig het. So help hulle ook vir my.”

Daar staan nog ’n stokou geroeste Mercedes bakkie in die agterplaas, en Human is onseker of hy dit self gaan restoureer of verkoop aan een van die klublede wat sy oog daarop het.

“Ek werk nou maar stadig aan my bakkie om dit weer tot uitmuntende toestand te kry.”

Human erken dat hy verslaaf geraak het aan sy stokperdjie. Hy spandeer baie van sy vrye tyd óf by die klub, óf aan sy motors.

En dan het hy ook ’n versameling Mercedes Benz model-motortjies.

En hy wys een blink model uit, ’n 1960’s SL-reeks.

“Dit is nou die motor wat ek eendag sal wil kan koop, maar tog verruil ek my Ponton vir niks.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za