Voet in die hoek op Killarney
2008-05-22
Jaco van Wyk
DIE Makita Formula Supercar gogga is besig om motorsportliefhebbers links en regs te byt en word elke jaar al gewilder. Met renjaers wat meeding in een van drie klasse - die goud-, silwer-, en bronsklas - is dit elke deelnemer se mikpunt om as die wenner van die goudklas gekroon te word. Die vorm van die motors is soortgelyk aan dié van ’n Opel Astra Coupé, met renjaers wat die motors jaag op een van drie renbane - Killarney in Kaapstad (waar die formule gebaseer is), die Mercedes Benz GP renbaan in Oos- Londen of Scribante in Port Elizabeth. Ongeveer tien wedren-ontmoetings word deur die jaar, elke jaar, gehou. ’n Ontmoeting bestaan gewoontlik uit ’n oefensessie op Vrydae - waar renjaers die geleentheid kry om hul motors gereed te kry - gevolg deur die kwalifiserende rondes Saterdagoggende, waarna daar twee agt-ronde wedrenne is wat dan die wenner bepaal. Dié sportsoort is besig om so gewild te raak dat ook ’n paar Paarliete die slim plan gehad het om te voel hoe dit voel om wettiglik 240km per uur te ry. Richard Schreuder, wat tans jaag in die goud-klas en Vito Marzocca, wat sy talent in die silwerklas tentoonstel, is twee plaaslike manne wat al te goed weet hoe dit voel om voet in die hoek te sit op Killarney se renbaan. Richard het reeds in 1983 begin jaag en sedertdien in verskillende formules deelgeneem. Hy ry egter al agt jaar in die Supercar formula, waartydens hy ’n kampioenskap (in 2002) gewen het, en ’n baanrekord van 1 minuut 21,3 sekondes opgestel het. Die rekord staan vandag nog. Volgens Vito, wat tans in sy vierde jaar deelneem en in sy eerste offisiële seisoen die bronsklas gewen het, is die sportsoort maar in mens se bloed. Van skooldae af droom hy al om eendag, net soos sy pa, met die supermotors resies te jaag. “Vandat ek kan onthou, was motors my passie, en toe my pa my vertel het wat Richard doen, het ek gereël om self by Killarney uit te kom en self te sien hoe dit is. “Ek het onmiddellik verlief geraak op die sportsoort,” sê Vito. Sy pa, Luigi Marzocca, was self op sy dag ’n kranige motorrenjaer en het gejaag met ’n Old School Super Saloon V8. Wat die veiligheid van die motors betref, is dit verbasend om vir Richard te hoor sê hoe selde daar ernstige beserings is. “Ek was al in baie ongelukke op my dag, maar het nog nooit ’n ernstige besering opgedoen nie.” “Met doeltreffende veiligheidseienskappe, soos die 6-punt veiligheidsharnasse wat aan die internasionale formule 1 standaarde voldoen, is die motors baie veilig ontwerp,” sê hy. So wat is so lekker aan die sport? Volgens Vito is die lekkerste deel van die sport om “die mense te leer ken, om meer te leer van die motors en om op die baan te leer wat jou perke is”. Richard stem hiermee saam. “Die lekkerste deel van die sport is om teen almal deel te neem - oud en jonk - en om lekker saam te kuier ná die tyd. “En dan geniet ek ook natuurlik die G-force.”
More
News
|