Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Manne met moed (en groot wiele)

Manne met moed (en groot wiele)
 
2008-05-22


OM ’n hele dag lank net 500meter te ry – en nie kleinkoppie te trek as jy weet die kanse dat jy gaan rol is so seker soos bliksem nie - sit nie in elke man se broek nie.

En wanneer die wiele mooi gemik moet word op en af teen hellings van 50 grade en deur dongas so groot soos Jona die walvis se bek, kos dit senuwees van staal.

Maar die Paarl maak mos manne met moed.

Klaus Lützeler stuur jare lank sy selfgeboude Flatfoot oor die hindernisse by 4x4 uitdaagwedrenne. Flatfoot is ’n Nissan Maxima-gebaseerde pypraam-voertuig wat meer soos ‘n giftige spinnekop as ’n motor lyk.

Die sport het niks te make met hoë spoed nie. Dit gaan alles oor die beheer van die motor in lae rat, sonder om terug te rol en sonder om die pad byster te raak terwyl jy mik en pas oor berg en deur dal.

Tien jaar gelede, toe Klaus nog saam met sy dogter M’Lani deelgeneem het, het die twee SA-kampioen-status ingepalm.

Toe sy die wêreld gaan verken het, het hy vir Flatfoot omgebou in ‘n eenman voertuig.

Die langbeen spinnekop is nou laer op wiel en toegerus met teleskopiese bene wat die lyf met die druk van ’n knoppie 400mm kan lig om gemaklik oor hindernisse te stap.

Flatfoot het ook ingeboude draaibrieke wat hom op ’n outydse tiekie laat draai. Ewenaarslotte voor en agter sorg vir beter vastrap.

Vandag ry Klaus meer vir die lekkerte as die beker. Maar as die “ou man”, soos die jonger deelnemers hom goediglik noem, op kompetisie-dag sy rooi Flatfoot in die ry trek, dan weet hulle: vandag moet ons met die tweede plek tevrede wees.

Saterdag het Klaus juis weer stof in die motors van die ander deelnemers geskop by die WP Off-Road Challenge op Botrivier, en huis toe gekom met die wentrofee.

Die “ou man” kan egter nie op sy louere rus nie. Intussen het sy seun, Niki, van sy wêreldomswerwinge teruggekom Paarl toe, en nou ry hy as navigator en hulpbestuurder saam met ’n opponent.

Saterdag was pa Klaus eerste en seun Niki tweede. En as Klaus die dag nie deelneem nie, soos vroeër vanjaar gebeur het, dan sorg Niki dat hy sy pa se plek op die wenpodium volstaan.

Dis reg so, laat hulle die eer Paarl toe bring. Die motormense moet weet, hier onder die Paarlberg kweek ons mos manne met moed.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za