Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Krieketheld op miershoopblaaie

Krieketheld op miershoopblaaie
 
2008-05-29

Marquerite Lombard

JULIE ABRAHAMS is ’n man wat al diep spore in Wellington se krieket-geskiedenis gestap het, en is op die ouderdom van 78 nog president van die Bergrivier Krieketklub.

Hy het 38 jaar lank krieket gespeel. Twee van die hoogtepunte van sy loopbaan was om teen spelers soos Basil D’Oliveira te speel en om twee jaar saam met Bob Woolmer as een van Boland Krieketunie se keurders te dien.

Julie Abrahams kom uit ’n familie van krieketspelers.

Sy pa Tom en Isak Adonis het in 1937 die Protea Krieketklub gestig.

Hy en sy drie broers Thomson, Jack en Christoffel het almal vir die Protea-klub gespeel.

Hy self was ’n stigterslid van die Wellington Krieketklub, en destyds ook van Sussex, Newville en Hillcrest.

Laasgenoemde drie klubs het later saamgesmelt om die Bergrivier Krieketklub te vorm. Hy is ’n stigterslid van Bergrivier, en is die klub se president vir elf jaar.

Julie Abrahams speel krieket vandat hy 18 jaar oud is, maar vertel dat vandag se krieketspelers dit maklik het.

“In die ou dae het ons nie op gras gespeel nie.

“Om die kolfblad te maak, het ons in die week miershope gaan kap by die eiland langs die rivier. Die grond is dan gesif en gelykgetrek oor die kolfblad, dan natgemaak en gerol sodat dit hard kon word.

“Saterdag voor die wedstryd is ’n mat met ’n donkiekar na die veld gekarwei. Dan is die mat bo-op die blad vasgekap. Ná die wedstryd moes jy dit weer losmaak, op die donkiekar sit, en weer huis toe daarmee.”

Daar was toe ook geen sprake van kleedkamers nie.

Vir die nuwe generasie krieketspelers het hy raad. Luister na die man met meer ervaring, en wees ernstig oor jou sport.

“In my dae was daar nie geld in die sport nie. Ek het 40 jaar as bouer gewerk, en as ek ’n kans gekry het, het ek geoefen. Ek het altyd ’n kolf en bal saamgeneem werk toe. As ons ’n ruskans kry, dan het ons krieket gespeel.

“Vanaand na werk, eet jy ’n stuk, en dan gaan oefen jy weer. Ook Saterdag voor die wedstryd, sodat as jy tienuur moet begin speel, dat jy ingestel is.”

Verlede jaar het hy weer krieket gespeel, maar sê sy oë is nie meer wat dit was nie.

Beserings tydens sy lang sportloopbaan was min, behalwe ’n gebreekte vingerpunt wat vandag nog windskeef staan.

“Die ander dag vra ’n dokter of hy dit nie vir my kan breek en weer reguit maak nie.

“Ek sê toe nee dokter, as ek eendag iets oorkom en ek lê in die krib, moet my kinders kan sien, dis hulle pa dié.”

Wat hy van sy rugbyjare onthou, is hoe sleg die velde op die platteland kon wees, hoe groot die manne van Malmesbury en Riebeek Kasteel was, en treurig dit kon wees om op Ceres te speel.

“Op Ceres het ons een jaar byna doodgegaan,” vertel hy.

“Ons het in ’n motreën op kleigrond gespeel - enkel diep in klei en water. Dit was so erg dat jy nie eers jou veters kon losmaak nie. ’n Man het gevoel asof die reën uit ’n fridge hierbo op jou afkom.

“Die mans het behoortlik gestaan en bewe op die veld.

“Ná die tyd was daar nie iets soos ’n warm stort nie, en om in daardie koue onder ’n kraan te gaan staan ...

“Dan het jy maar die ergste afgevee, droë klere aangetrek en so weer terug Wellington toe gery.

“Dit was maar moeilike dae.”

Julie Abrahams is ook ’n man wat stap, kilometers elke dag van sy huis in Van Wyksvlei na Newton en Wellington.

“Mense vra altyd, hoekom het ek dan nie ’n motorkar nie. Nee, ek kry sommer karsiek as ek in ’n motor moet ry. Ek hou niks daarvan nie.

“Die anderdag sit ek en my vrou in die taxi. Ek sê toe vir haar Mammie, ek hoop jy het versterkdruppels gekoop, want as ons by die huis kom, sal ek dit nodig kry.

“Nee wat, ek loop so al my hele lewe lank. Toe ons kinders was, kon ons ouers nie ’n waentjie bekostig nie, so het ek in die gewoonte gekom. Mens kry ook kans om te dink, en te kyk wat om jou aangaan.”

’n Dominee kry hom op ’n dag by die kerkhof net buite Wellington, en stop om ’n bietjie te gesels. Wat is die geheim van die lewe, wou hy weet.

“Ek sê toe dominee, eerstens moet jy lief wees vir dans. Verder sê ek, Vrydagaande as die jeug vergader, gaan sit dan daar tussen hulle, want daar is lewe onder hulle; maar Sondagmiddae as die susters vergader, dan loer jy net in en vra, hoe gaan dit.

“Die ander ding is dat as ek op ’n Vrydag dorp toe stap, dan koop ek altyd vir myself ’n bos piesangs. Dan eet ek dit sommer in die loop dat die skille waai.”

Dis hoe ’n mens gesond en fiks bly.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za