Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skou-krisante die prag van sy lewe

Skou-krisante die prag van sy lewe
 
2008-05-29

Marquerite Lombard

JAPIE WILLEMSE weet hoe om met krisante te skou, daarvan getuig die 28 eerste pryse, vyf tweede en vyf derde pryse, en twee skou- kampioentrofeë wat hy hierdie maand tydens die Wellington Krisanteskou gewen is.

Kinnzann, Jessie Hapwood, Alfred Simson, Cholem Red, Edith Lane, En Hono en Windchime kan vir die ongeligtes onbekend klink, maar vir Japie Willemse was dit almal name van blomme wat die afgelope skou mee pryse gewen het.

Hy is ook iemand wat graag sy ervaring met mense deel.

Eerstens, vertel hy, moet jy bereid wees om baie blomkoppe prys te gee om die uitgekose een so groot, mooi en vol te kry.

Tweedens, moet jy weet wanneer om die plant kos te gee en hoeveel. Want die wortels soek een soort kos, en die blare ’n ander.

Dan is daar ook die stryd teen siektes, plantluise en rooispinnekop.

Die klein krisanteplantjies word vroeg in Oktober uitgeplant in goed voorbereide grond, dan teen middel November is dit tyd om die plant se kroon uit te breek sodat dit ’n mooi sterk stoel kan maak.

Van daar word die nuwe spruite uitgebreek om die drie sterkstes te los wat later opgelei kan word.

Om te skou kos senuwees van staal. Soos hierdie jaar was dit ook nie so maklik nie.

“Die laaste week van Maart - ses weke voor die skou - het my Japanse blomme al begin kleur wys. Ek was baie teleurgesteld, want dit was ’n bietjie te vinnig.

“Toe die manne kom kyk, sê hulle almal, nee jy kan maar vergeet van hierdie blomme, met hulle gaan jy nie skou toe nie. “Ek sê toe hulle moet nie my blomme onderskat nie. En dit was ook so, ek is met 31 van hulle skou toe.”

Die geheim verduidelik Japie Willemse, was om elke oggend vroeg die spuitkan vol water te gooi en elke bak mooi nat te maak, want as die grond te droog word, maak die blomme vinniger oop.

Die ander een is om elke oggend al die lelike blomblare versigtig uit te trek. Want sien, dit is soos om ’n eend se vere te trek, hulle groei terug.

So bly die blomme in perfekte afwagting vir die groot dag.

Hierdie jaar, ’n week voor die skou, het die wind een aand sterk gewaai, soveel so dat dit die seil van sy kweekhuis se dak afgewaai het. Senutergend, maar gelukkig darem nie te veel skade nie.

Die Maandag voor die Saterdag se skou is al 192 blomme klaar gesny en staan reg in hulle houers in Willemse se voorkamer.

Om die blomme te laat hou, word die houers se water gedokter met ’n mengsel van milton, suiker en aluim.

Vra mens hoe sy belangstelling in die blomme begin het, vertel Japie Willemse dat hy destyds homself nie as ’n man vir blomme beskou het nie.

“Pa het my nie so grootgemaak nie. Ek was ’n groente-man.”

Toe op ’n dag gee ’n vriend vir hom tien krisante-steggies, wat hy sommer tussen sy groente geplant het. Eintlik het hy gedink dit is net ’n klomp nonsens, onthou hy.

Die volgende jaar plant hy weer, en die daaropvolgende jaar sommer dubbeld so- veel. Vandag is daar 300 blomme in sy kweekhuis, en 94 verskillende soorte.

“Ek begin toe in 1984 skou en kry toe ’n derde plek. Hulle sê as hierdie ding vir jou byt, dan byt hy vir jou lelik.”

Nuwe blomsoorte word elke nou en dan deur ’n vriend of kennis van oorsee ingebring en dan sorgvuldig vermeerder en tussen die klubs uitgedeel.

Ervare kwekers vertel dat daar twee lesse is wat ’n mens vinnig leer.

“Mense sê altyd as ’n ou na jou tuin toe kom, moet jy nooit dat hy agter jou aanloop nie, laat hom eerder voor loop, dan kan jy sien wat hy aanvang.

“Ook, moet nooit wys waar jou nuwe goed staan nie.”

Self eksperimenteer Japie Willemse ook baie om verskillende resultate te kry met dieselfde blom soort.

“Jy kan ’n blom op drie maniere groei. Dis die taktiek. Elke een sal verskillend lyk. Dit gaan alles oor watter blomknop jy kies - die eerste, tweede of derde wat verskyn. Elkeen kan verskil in grootte en kleur.

“Die Wellington kwekers skou twee keer ’n jaar op klub- en nasionale vlak, en gewoonlik binne die eerste twee weke van Mei.

“Krisanteskoue kom net in die Wes-Kaap voor, en daar is agt dorpe wat klubs het. Wellington se klub is een van die aktiefstes.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za