Wauters se radiodae duur voort in die Paarl
2008-05-29
OP sy groot ou stoep teen die hange van Paarlberg, lyk Jan Wauters maar net soos nog ’n man wat sy aftrede geniet. Maar Wauters is een van België se bekendste radiosportverslaggewers, en hy het die Paarl gekies as die tuiste vir sy aftrede. En Wauters is nie net sommer nog ’n sportverslaggewer nie. Met agt Sokker-węreldbekers, vier Olimpiese Spele en 25 Tour de France fietswedrenne op sy kerfstok as sportverslaggewer, is hy werklik ’n besonderse nuusman. Wauters se verslaggewing was gekenmerk deur sy uiters gedrewe denke, ryk taalgebruik, vasberadenheid en die vermoë om die regte vraag op die regte tyd te vra. Hy het altyd die storie agter die storie gaan haal. Sewe-en-dertig jaar nadat hy met sy fassinerende loopbaan begin het, het Wauters sy pad heel onbepland na die skone vallei van die Paarl gevind. “Eintlik het ek nie die Paarl gekies nie, maar die Paarl het vir my gekies. “Toe ek en my vrou Theresa in 1999 saam afgetree het, het ons besluit om Suid-Afrika te besoek. Ons het destyds saam gestudeer in Germaniese tale en het kennis gemaak met die werke van onder andere Elizabeth Eybers en NP van Wyk Louw. “Ons avontuur het begin in die wildtuine van Mpumalanga, en hierna is ons deur Swaziland na Durban. “Durban het nie juis vir ons aangestaan nie, en ons is per vliegtuig na Port Elizabeth en het per motor deur die Suid-Kaap getoer, onderweg na Kaapstad. Ons wou ook Stellenbosch sien, want hiervan hoor ’n mens baie in die buiteland.” Maar gelukkig het die Wauters se toerbeplanner vir hulle voorgestel om die Paarl te besoek en hulle het half onwillig ingestem om hier besoek af te lę. En sonder waarkuwing het hulle verlief geraak op die vallei. “Ons het ’n pragtige ou huis gesien wat in die mark was, en ons het hieroor gewik en geweeg. Eintlik het ek en Theresa besluit dat ons dit nie kan bekostig nie, maar die besonderse vallei en die warmte van die mense hier het ons gelok. Ons het ingegee, en die huis is nou ons s’n.” Die Wauterse woon nou ’n groot deel van die jaar in die Vallei wat binne hul harte gekruip het. Hulle spandeer hulle tyd om die omgewing te verken en in rustigheid te leef as deel van die gemeenskap van die Paarl. Wauters het ’n veelbewoë verlede en onthou die berugte 1972 Olimpiese Spele in München soos gister. Hierdie Spele is gebrandmerk deur Palestynse terroriste wat die Israeliese span aangeval het in die Olimpiese dorp, wat uiteindelik tot ’n bloedspoor gelei het. Altesame 11 Israeliese atlete en afrigters en vyf terroriste het gesterf. En terwyl dit afgespeel het, was Wauters in sy ateljee reg langsaan die gebou waar die treurspel plaasgevind het. “Ek kon die terroriste met hul balaklavas en vuurwapens duidelik sien en die drama het voor my oë ontvou.” Nog ’n bekende treurspel wat Wauters beleef het, en wat steeds ’n klad op węreldsport gelaat het, was die Heizel-drama. Die jaar was 1985 en dit was die UEFA- bekerfinaal by Heizel-stadium, Brussels, tussen die Italiaanse klub Juventas en die Engelse klub Liverpool. Alhoewel die twee spanne se ondersteuners geskei was, het hulle steeds nader aan mekaar beweeg, en uiteindelik mekaar gekonfronteer. Tydens die gewoel het ’n muur ineengestort en die teenstanders het mekaar begin vertrap. Altesame 39 lyke het in die puin bly lę. “Hierdie hele affęre het reeds voor die begin-fluitjie van die wedstryd voor my afgespeel terwyl ek op die persbank gesit het in die paviljoen. Die teenstanders het by mekaar probeer uitkom, en die polisie kon die situasie nie beheer nie. ’n Muur skuins onder die paviljoen waar ek was, het meegegee en dit was chaos. “Ten spyte hiervan is die wedstryd voortgesit, in die volle aangesig van die talle lyke wat daar gelę het. Terwyl die spelers en skare gejubel het, het ek met afgryse gekyk hoe die spel aangaan. “Dit was vir my baie moeilik om verslag te doen oor die wedstryd, terwyl daar min omgegee is vir die gestorwenes.” Maar deur al die drama wat Wauters moes aanskou weens sy werk, was daar wél baie hoogtepunte. En hy vertel graag van die tye wat hy die Tour de France meegemaak het as verslaggewer op die hakke van die uitmuntende jaer Eddie Merckx, een van die grootste fietsjaers ooit. “Die prag van die omgewing en die opwinding om vir Merckx te volg, was nog altyd asemrowend.” Mens kan nie help om vir dié sportdeskundige te vra wat hy meen die vooruitsig is vir die komende 2010 Węreldbeker-sok- ker, wat hier gaan plaasvind nie. Sy oë dwaal ver terug na die agt wat hy reeds bygewoon het. Hy reageer eerlik: “Dit is ’n wonderlike gebaar en eerbetoon aan Nelson Mandela, maar ongelukkig is daar nie genoeg openbare strukture nie, byvoorbeeld die vervoerstelsel. “Misdaad is nog ’n kommerwekkende aspek, en ek twyfel of ’n suksesvolle Węreldbeker hier aangebied kan word. “Ek wens alles sal regkom, maar die moontlikheid in so ’n kort tydperk is maar skraal.” En alhoewel Wauters sy hart hier verloor het, is hy ook bekommerd oor die Paarl se toekoms. “Die hart van die dorp, die middedorp, is baie vervalle. Elke keer as ek van die buiteland af hierheen terugkeer, hoop ek vir ’n verbetering, maar niks. “Kyk maar byvoorbeeld na die pragtige, ou hoofposkantoor wat nou al byna twee jaar verlate staan. Die gemors warrel by sy ingange rond en dit is baie hartseer om te sien dat so ’n pragtige gebou ten gronde gaan. “Toevallig is daar bo die een ingang in Frans geskryf, ‘vir die heil van die volk, en in Latyns by die ander, ‘uit eendrag kom mag’. Maar dit blyk asof hierdie gesegdes van die verlede nou vergete is.” Wauters sę dat Paarliete ook ’n standpunt moet inneem dat die wingerde en boorde wat die dorp uniek maak, bewaar moet word vir die nageslag, en nie vir ontwikkeling gebruik moet word nie. Hy sę hy let als om hom op, want dit is juis dit wat vir hom sukses laat behaal het as verslaggewer. “Ek loop rond asof ek ’n antenne bo-op my kop het wat my alles om my laat raaksien en vrae vra daaroor. Dit was juis dié sintuig wat tot my sukses gelei het. “My hele lewe was nog altyd soos Woody Allen se gesegde, ‘all my days are radio days.’ * Renowned Beligian radio journalist Jan Wauters has found a home in Paarl.
More
News
|