Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wonderwerke op 'n perd se rug

Wonderwerke op 'n perd se rug
 
2008-05-29

Sonja Burger

TUSSEN verknotte oliene en 500-mil- joen-jaar-oue granietrotse teen Paarlberg doen M’Lani Basson, ’n perdryterapeut, baanbrekerswerk in perdryterapie met gestremde kinders van Ligstraal Skool.

Dis die klein wonderwerkies wat elke dag by haar spesiale ryskool gebeur.

Vir duisende jare reeds speel perde ’n belangrike rol in die lewens van mense. Vyftien duisend jaar gelede al het skeppende CroMagnon mense die kontoere van kalksteengrotwande in die Suid-Weste van Frankryk gebruik om perde in reliëf te teken.

Die Switserse psigiater, Carl Jung, het geglo dat die perd een van die mens se diepste sielkundige stereotipes vergestalt.

Chris Irwin, internasionale kenner op die gebied van perdegedrag en die skrywer van Horses Don’t Lie, sê wanneer mense na perde kyk, sien hulle die vlees- en-bloed inkarnasie van die kragte wat in hulself opgesluit lê – kragte wat hulle wens hulle die moed gehad het om op te saal en te ry.

En dit is presies wat perd-gesteunde terapie doen. Dit help kinders en grootmense om emosionele en fisiese struikelblokke te oorkom. Dit help hulle om hul probleme op te saal en te ry.

“Jy mag dalk serebraal gestremd wees, beswaarlik in staat om op jou eie twee voete te staan, maar wanneer jy op die rug van ’n 400-kg perd sit, dan ontvang jy onbeskryflike krag en selfvertroue.

“Vir sommige kinders is die tien minute op ’n perd se rug die enigste tyd waarin hulle in beheer is van gebeure in hulle lewens,” sê M’Lani Basson, die dryfveer agter ’n uitdagende nuwe eksperiment in die Paarl.

Vir die afgelope vyf maande leer M’Lani veertig verstandelik en/of fisies gestremde kinders om ’n 28-jarige perd, genaamd Josef, te ry op haar ouers se kleinhoewe teen die hange van Paarlberg.

Ou Josef is ’n eertydse gimkanaperd op wie se rug sowat ’n duisend kinders reeds leer ry het. Hy het egter te stadig geword en is amper soos die getroue ou Boxer in George Orwell se boek Nineteen Eighty-Four perdeslagter toe gestuur, toe M’Lani aangebied het om vir hom ‘n tuiste te bied.

Ou Josef is stadig en ’n moontlike beroerte het hom met ’n hanglip gelaat, maar hy is die perfekte metgesel vir kinders wat hulle eie gestremdhede het om te oorkom.

By Amado, wat “geliefde” beteken, leer die kinders egter meer as om net perd te ry.

Hulle roskam Josef. Hulle maak beurte om langs die perd te stap en boontjiesakkies heen en weer vir hulle vriende op die perd se rug te gooi.

Soos wafferse akrobate draai hulle om in die saal, ry met die lyf agterstevoor om, doen strekoefeninge om hulle voete in die stiebeuels by te kom en in die proses oefen en strek hulle spiere wat vir jare styf en spasties was.

Dié wat kan, speel sokker in die perdrysirkel vóór en ná lesse en kinders wat serebraal gestremd is, warm op deur een of twee keer in die ronde te loop met die heining van die perdrysirkel as ondersteuning.

Die perdrysirkel word ’n metafoor vir die lewe en die stokou oliene waaronder die kinders hulle broodjies eet ’n forum vir sinvolle kommunikasie.

Perde is sensitief vir mense se liggaamstaal en hulle gebruik hul eie liggame om op ’n direkte, eerlike wyse met mense op hul rug te kommunikeer. Dit is baie waardevol in die geval van fisies-gestremde kinders. Kinders kan onmiddellik die gevolge van hul bewegings sien.

Die interaksie met perde gee aan kinders wat sukkel om binne normale sosiale verband te kommunikeer, die geleentheid om op alternatiewe maniere te kommunikeer.

In die paar maande wat M’Lani met die kinders van Ligstraal Skool werk, het sy al baie klein wonderwerkies gesien.

Sy vertel van ’n twaalfjarige, outistiese meisie wie se taal-en spraakontwikkeling uiters swak is. Toe die meisie die eerste keer op Josef se rug klim, het M’Lani aan haar verduidelik dat Josef net sou loop indien sy vir hom sê om dit te doen.

Die dogtertjie het vir tien minute botstil gesit gedurende die eerste sessie, te bang om ‘n woord te sê. Josef het nie ’n tree versit nie. Met die tweede sessie het sy amper onhoorbaar gefluister, “Kom Josef. Kom.”

Josef het begin loop en in die volgende paar weke het Micaela nie net met die ou perd begin praat nie, maar ook met haar onderwyseres by die skool!

Joelynne Appolis is serebraal verlam.

In die afgelope paar maande kon M’Lani Joelynne se stiebeuels met 12 cm ondertoe aanpas omdat Joelynne se spastiese spiere geleidelik begin strek het van die perdry.

Dan is daar klein Franklin Fielander wat nog nooit kon loop nie as gevolg van serebrale verlamming.Na drie maande se perd-gesteunde terapie het sy beenspiere tot so ‘n mate versterk dat hy onlangs ses treë kon gee op sy wankelrige beentjies.

Die vreugde op sy gesiggie as hy tree vir tree vorentoe beur, is onbeskryflik.

Nie alle wonderwerke gebeur vinnig nie. Een dogtertjie, die slagoffer van bloedskande, roep elke keer opgewonde uit wanneer sy by die skool opgetel word: “Perdjie ry! Perdjie ry!” Wanneer sy egter die plaas bereik, verloor sy moed. Sy kan nog nie haar vrese opsaal en ry nie.

M’Lani, wat die perdryterapiesentrum op haar ouers se kleinhoewe opgesit het nadat sy in Skotland gaan leer het hoe om perde in terapie te gebruik, sê die struikelblok in die pad van uitbreiding, is befondsing.

Nog net veertien van die 40 kinders wat perdryterapie kry, is finansieël ondersteun. Die ander word pro bono deur M’Lani geleer.

“My droom is om aan elke kind by Ligstraal Skool die geleentheid te gee om te leer ry. As ons die fondse kan genereer, kan hierdie sentrum groei tot ’n verreikende gemeenskapsprojek,” sê M’Lani.

Om een kind te borg vir ’n jaar lank kos R5 000. Kontak M’Lani by 083-604-4037 of besoek haar webwerf: www.amado.co.za




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za