Witblits red baas
2008-06-05
Johan Nel
“DIE skok wat deur hom geruk het toe drie kapers sy bakkie wou gryp, was die grootste skrik van sy ganse lewe,” sê Francois Rossouw van Wellington. En hy wil nie eens dink wat die uiteinde van die drama sou gewees het as dit nie was vir sy witblits, Cloeë, met haar vlymskerp tande nie. Francois sê hy en Cloeë, sy driejarige hondjie, was onlangs op ’n woonwa-vakan- sie in die Laeveld van Mpumalanga toe drie kapers uit die bloute toeslaan. Hy het in ’n woonwapark buite Nelspruit oorgestaan en besluit om gou dorp toe te ry om sy voorrade aan te vul. Terwyl hy in druk verkeer saam met tientalle ander voertuie by ’n rooi verkeerslig sit en wag het, het iemand skielik sy bakkie se voordeur oopgeruk. “Ek het my buite weste geskrik toe die man my arm gryp en my met geweld uit die bakkie probeer pluk. “Terselfdertyd het ’n ander persoon die deur agter my oopgepluk en op die agterste sitplek gaan sit. Toe ek weer kyk, het ’n derde persoon langs my op die voorste sitplek ingeskuif. My beursie met my geld, kredietkaarte en my selfoon het oop en bloot langs my op die sitplek gelê. Ek het besef dis die einde van my vakansie - sonder bakkie, sonder geld, sonder selfoon.” Op daardie oomblik het Cloeë, wat voor aan die passasierskant op die vloer gelê en slaap het, wakker geskrik. Francois sê hy het net ’n wit streep gesien toe Cloeë van die vloer af na die man wat voor langs hom gesit het se gesig skiet. Sy het so verwoed aangeval dat die man onmiddellik die deur oopgepluk en laat spaander het. Toe het Cloeë die man op die agterste sitplek getakel. Ook hy het voor die verwoede aanval geswig. Die man wat aan Francois se arm gerem het, het ook besluit om agter sy makkers aan te vlug. Alles was binne tien sekondes verby. Die verkeerslig het oorgeslaan na groen, die motors agter hom het ongeduldig begin toet en Francois het met lam knieë en bewende bene sy bakkie aan die gang gekry en rukkerig vorentoe begin beweeg. Hy sê hy voel vandag skuldig oor die feit dat hy aanvanklik gedink het dit was ’n fout om Cloeë saam met hom op vakansie te neem. Woonwaparke wat honde toelaat is skaars en die paar keer wat hy by vriende oorgestaan het, het Cloeë en sy vriende se honde nie lekker oor die weg gekom nie. Nou is hy en Cloeë onafskeidbaar. “En die les wat alle Suid-Afrikaanse motoriste moet leer, is nou deeglik by my ingegrif,” sê Francois. “Hou te alle tye jou voertuig se vensters toe, die deure gesluit en moet nooit jou selfoon en beursie oop en bloot in die voertuig laat rondlê nie.” * A perky Maltese poodle saved the (holi)day, when she attacked three hijackers who were attempting to rob her master.
More
News
|