Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Droomvakansie in flarde

Droomvakansie in flarde
 
2008-06-05

Lise Beyers

’n DROOMVAKANSIE deur Namibië het ’n lelike nadraai gehad vir vier egpare van die Paarl, toe kontant en elektroniese toerusting ter waarde van meer as R50 000 van hulle gesteel is in Hentiesbaai.

Dolf en Joan Botha, Jackie en Bentley Chapman, Vlekkie en MC Vermeulen en Wilna en Danie Smit, het in Mei koers gevat noorde toe vir ’n wildernis-safari deur Namibië.

Hulle het die prag van die vlaktes duskant Grünau beleef, asook die volop waters van die Hardapdam. Toe verder noord na die stadsligte van Windhoek, en daarna het die asemrowende Etosha-panne gewag.

En hier het die jakkalsies uit jou hand gevreet, vertel Dolf, en die leeus was so naby dat hulle byna teen die voertuie geskuur het.

Maar met hul stadige terugtog na die suide en ’n kans vir hengel in Hentiesbaai, het hierdie vakansie van ’n leeftyd eensklaps in ’n nagmerrie ontaard.

In die huis in Hentiesbaai het twee egpare in die huis geslaap, en die ander twee in kothuise buite. Die erf was baie veilig, met ’n byna drie meter hoë kringmuur om die perseel. Al die vensters het diefwering gehad.

Dus was daar geen bekommernis oor veiligheid nie, en in elk geval, stem hulle saam, “dit was tog Namibië en nie die Republiek nie”.

Maar die aand van 24 Mei is hulle tydens, wat sal blyk ’n goedbeplande huisbraak, nie net van etlike duisende rande beroof nie, maar ook van die kostelose herinneringe aan hul vakansie.

Joan vertel dat sy so 05:00 wakker geskrik het met ’n verskriklike naarheid op haar maag en duisligheid.

“Ek het vir Dolf hiervan vertel, maar hy was baie deur die blare. Ek het opgestaan en dit is toe dat ek sien die kamer is in chaos gedompel.

“Die eerste ding waarvoor ek gesoek het, was my handsak, want my paspoort was daarin. Dit was weg en ook my selfoon wat op die bedkassie gelê het.

“Ek is na buite na my suster Wilna toe, maar by hulle was alles reg.

“Ek het toe my handsak op die grond gevind. Genadiglik was my paspoort steeds daarin, asook al my bankkaarte. Net die kontant was weg.”

Later is vasgestel dat Dolf se selfoon en ook Jackie en Bentley s’n weg was. Video- en digitale kameras het ook verdwyn.

Een van die mans se visstokke wat buite gestaan het, het ’n groot vishaak aan sy punt gehad.

Die boewe het vermoedelik eers iets in die kamers gespuit om die Bothas en Chapmans te verdoof en toe het hulle die visstok as gaffel gebruik om die huissleutels te bekom.

“Die polisie het gesê dat hulle al vantevore gevalle ondersoek het waar toeriste in hul slaap verdoof is, en dan beroof is. Eintlik is ek oor die verdowing bly, want as ons wakker geskrik het tydens die roof, sou ons dalk in doodskiste terug huis toe gekom het.”

Nadat hulle onder die diewe deurgeloop het, het hulle die hasepad terug Paarl toe gekies.

“My kontant vir die res van die vakansie was weg, en so ook die R2800 wat ek by die casino in Windhoek gewen het.”

Die Vermeulens en Smitte was ongedeerd en het hul tog voortgesit deur die woestyn na Ludertiz.

“Dit is vir ons tragies om te dink dat toeriste nou geteiken word in die beeldskone Namibië.

“Ek sal egter probeer vergeet van dié nare voorval, maar ons herinneringe van die wonderlike dae en nagte in die wildtuin, met sy oneindig vlaktes en wilde diere wat geen mens kan tem nie, kan nooit van ons beroof word nie.”

* A dream holiday of four Paarl couples to Namibia, ended bitterly, when they fell victim to burglars in Henties Bay.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za